Return to search

Produktiwiteit en arbeidsmarkdoeltreffendheid in die Suid Afrikaanse ekonomie (Afrikaans)

AFRIKAANS: Die arbeidsmark en die wyse waarop die arbeidsmark funksioneer dra by tot die doeltreffende funksionering van enige ekonomie. Die swak prestasies van die Suid¬Afrikaanse ekonomie die afgelope aantal jare is indikatief van die ondoeltreffende wyse waarop veral die Suid-Afrikaanse arbeidsmark funksioneer. Ondernemings slaag dus oor die algemeen nie daarin om dinamiese arbeids- en indiensnamepraktyke toe te pas en produktiwiteit betekenisvol te verhoog nie. Verskeie faktore dra by tot die ondoeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. In dié verband kan in besonder verwys word na die invloed van apartheid. Hierdie beleidsrigting het die geleenthede van individue beperk en 'n besondere impak op die arbeidsmark gehad. Dit is hoofsaaklik weens die apartheidsbeleid dat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark sterk gesegmenteerd is, dit wil sê, permanent verdeel is in twee hoofsaaklik nie-mededingende marksegmente (Barker, 1992:16). Die regering het egter sedert 1994 daadwerklike pogings aangewend om arbeidsverhoudinge en gevolglik die arbeidsmark by wyse van wetgewing te hervorm. In die studie word verskeie veranderlikes geïdentifiseer wat met die arbeidsmark verband hou, maar terselfdertyd indikatief is van die swak prestasies van die Suid¬Afrikaanse ekonomie, naamlik, hoë en stygende werkloosheidsvlakke, die lae werkskeppingskapasiteit van die ekonomie, armoede en ongelykheid, relatief lae produktiwiteitsvlakke en hoë eenheidsarbeidskoste, tekort aan vaardige en geskoolde arbeid, die relatief hoë koste van arbeid en die onbuigsaamheid van die arbeidsmark. Dit is in besonder die lae produktiwiteitsvlakke in die Suid-Afrikaanse ekonomie wat Suid-Afrika se kapasiteit om vinnige en volgehoue ekonomiese groei te bewerkstellig (en gevolglik internasionaal mededingend te wees) nadelig beïnvloed. Die belangrikheid van produktiwiteit kan dus nie oorbeklemtoon word nie. Produktiwiteit dien as 'n maatstaf van die doeltreffendheid waarmee hulpbronne (ondermeer arbeid), aangewend word. Die vraag na en die aanbod van arbeid word dus beïnvloed deur die produktiewe aanwending van insette, Volgens Ehrenberg en Smith (1996:36) is produktiwiteit egter ook bepalend in terme van die uitset van 'n onderneming en die wyse waarop arbeid en kapitaal in die produksieproses gekombineer word. Ekonomiese ontwikkeling behels dus veranderinge in die struktuur van indiensname en betekenisvolle toenames in produktiwiteit. Die prestasies van die ekonomie word beïnvloed deur stygende produktiwiteitsvlakke en 'n styging in reële lone. Die welvaart van individue of 'n gemeenskap kan slegs verhoog word indien produktiwiteit betekenisvol verhoog. Die determinante van produktiwiteit (die verwantskap tussen reële uitset en die hoeveelheid insette wat aangewend word om die uitset te produseer), is egter veelvuldig en veelsoortig. Prokopenko (1987:4) voer aan dat "the essence of productivity improvement is working more intelligently, not harder". Die Suid-Afrikaanse bevolking is 'n heterogene gemeenskap bestaande uit verskeie groeperinge met hul eie persepsies rakende politieke, ekonomiese, sosiale en arbeidsaangeleenthede, met die gevolg dat daar wyduiteenlopende opinies met betrekking tot produktiwiteit en die belangrikheid daarvan bestaan. So byvoorbeeld ervaar werknemers oor die algemeen produktiwiteit as negatief. Dit is egter noodsaaklik dat al die rolspelers in die ekonomie besef dat verhoogde produktiwiteit 'n belangrike bron van reële ekonomiese groei, sosiale vooruitgang en verhoogde lewenstandaarde is. In Hoofstuk 3 word die Growth, Employment and Redistribution (GEAR) makro-ekonomiese strategie van die regering en die produktiwiteitsimplikasies van die strategie ondersoek. Dit is duidelik dat produktiwiteitsvlakke betekenisvol moet verhoog indien die regering die gestelde doelwitte wil bereik. Produktiwiteit word ook beïnvloed deur arbeidsverhoudinge. Die strewe na minimum werkloosheid en die doeltreffende aanwending van menslike hulpbronne maak die arbeidsmark dus 'n sentrale fokus van die pogings om die algehele werking van die ekonomie te verbeter. Aangesien arbeid 'n komponent in enige produksieproses is, is arbeid en arbeidsverhoudinge 'n belangrike aspek in die studie rondom produktiwiteit en produktiwiteitsverhoging. Positiewe verhoudinge in die werkplek sal werknemers motiveer om hul werk op die mees doeltreffende en effektiewe wyse af te hande!. Dit lei tot verhoogde produktiwiteit. Die verhoudinge tussen werkgewers en werknemers word grootliks gereguleer deur arbeidswetgewing. Arbeidswetgewing het dus 'n direkte invloed op al die partye in die arbeidsmark en gevolglik ook op die werking van die arbeidsmark. In Hoofstuk 5 word aandag geskenk aan die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995, die Wet op Basiese Diensvoorwaardes van 1997 en die Wet op Gelyke indiensname van 1998. Deur middel van die wetgewing poog die regering om 'n wetlike raamwerk vir samewerking tussen werkgewers, werknemers en die regering daar te stel ten einde Suid¬-Afrikaanse ondernemings en nywerhede se internasionale mededingende posisie in stand te hou, en ekonomiese ontwikkeling, maatskaplike geregtigheid, arbeidsvrede en die demokratisering van die werkplek te bevorder. Indien produktiwiteitsvlakke nie verhoog word nie sal die lewenstandaard van die Suid-Afrikaanse samelewing deurlopend daal en werkloosheid toeneem. Ten einde die groeipotensiaal van die ekonomie te verhoog moet produksiemiddele doeltreffend benut en besparing en die investeringsgeneigdheid verhoog word. / Dissertation (M Com (Economics))--University of Pretoria, 2007. / Economics / unrestricted

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/24120
Date19 January 2007
CreatorsMalan, Theo
ContributorsProf F G Steyn, upetd@up.ac.za
Source SetsSouth African National ETD Portal
Detected LanguageUnknown
TypeDissertation
Rights© 2000 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria.

Page generated in 0.002 seconds