Globalisering het die wêreldekonomie onomkeerbaar verander. Globalisering is onder andere moontlik gemaak deur die snelle tegnologiese vooruitgang en die verstewiging van handelsbande oor landsgrense heen. Dit het tot groter mededinging gelei en organisasies aan nuwe uitdagings en onsekerhede blootgestel. Die unieke aard van die nuwe ekonomie het organisasies verplig om hul tradisionele besigheidsmodelle aan te pas. Dit is nou moontlik om grondstowwe van bykans enige plek ter wêreld te bekom, om produkte naby buitelandse markte te vervaardig of waar die arbeidskoste die laagste is, om produkte vanaf optimale punte te versprei en om produkte bykans enige plek ter wêreld te bemark. Die geleenthede soos hierbo uiteengesit, het die klem opnuut laat verskuif na die belangrikheid van die voorsieningskanaal in organisasies. Die voorsieningskanaal is vandag die kern van die besigheidsmodel van menige organisasie en sluit verskeie eksterne partye van ’n organisasie in, soos byvoorbeeld verskaffers van grondstowwe en vervoerdienste. Dit is vandag van uiterste belang dat die ketting as ’n eenheid optimaal funksioneer, aangesien dit algemene praktyk is dat voorsieningskanale teen mekaar meeding om produkte so vinnig en goedkoop as moontlik aan die verbruiker te lewer. Voorsieningskanale is inderdaad van strategiese belang vir organisasies. Die prestasie van voorsieningskanale het ’n direkte impak op winsgewendheid en is dus ook bepalend in die skepping van aandeelhouerswaarde. Die moderne voorsieningskanaal is egter weens verskeie faktore, soos die betrokkenheid van derde partye, kulturele verskille en die lengte van sekere voorsieningskanale, ‘n onsekere omgewing. Dit is van uiterste belang dat organisasies hierdie onsekerhede of risiko’s na behore bestuur ten einde te verseker dat die prestasie van hul voorsieningskanale aan die verwagtinge voldoen. Hierdie studie het hoofsaaklik ten doel gehad om ’n optimale struktuur vir die bestuur van voorsieningskanaalrisiko’s asook ’n geïntegreerde benadering vir die effektiewe bestuur van die risiko’s daar te stel. Voorts was dit die oogmerk om die benadering in ’n werklike voorsieningskanaalomgewing deur middel van ’n gevallestudie toe te pas. Die voorgestelde benadering tot risikobestuur in die voorsieningskanaal is ’n ten volle geïntegreerde benadering wat alle komponente van die voorsieningskanaal insluit. Dit sluit dus alle eksterne partye van die organisasie in, soos byvoorbeeld verskaffers van logistieke dienste, asook alle relevante ondernemingsfunksies, soos byvoorbeeld aankope, bemarking en finansies. Voorts is dit ‘n gestruktureerde benadering wat op strategiese, taktiese en bedryfsvlakke in die voorsieningskanaal toegepas kan word. Indien dit behoorlik geïmplementeer en toegepas word, kan dit byvoorbeeld onderbrekings in die voorsieningskanaal voorkom of ten minste die potensiële impak van onderbrekings verminder. Dit het heelwat ander voordele, byvoorbeeld verbeterde besluitneming en sakeprestasie. Enige organisasie kan hierdie benadering implementeer. Dit is egter makliker om dit te implementeer in organisasies wat alreeds gevestigde risikobestuurstrukture het. ’n Deeglik beplande implementeringstrategie is ’n voorvereiste vir die suksesvolle implementering van die benadering. Risikopersepsie is ’n wesenlike aspek wat in ag geneem moet word tydens die implementering en die toepassing van die benadering. Persepsies van risiko en risikobestuur word deur verskeie faktore beïnvloed, byvoorbeeld die opleiding en ondervinding van individue asook die organisasiekultuur. Die uitkomste van risikostudies kan byvoorbeeld benadeel word indien risikopersepsies nie na behore bestuur word nie. / Prof. J. Walters
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:2931 |
Date | 17 June 2008 |
Creators | Bredell, Riaan Daniel |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.002 seconds