Return to search

Beperkings op testeervryheid / Jodi Siecker

In hierdie navorsingsverslag word gefokus op die beperkings wat geplaas word op die testeervryheid van ʼn persoon in die breë sin. Die beginsel van testeervryheid is die grondslag van die Suid-Afrikaanse testate erfopvolging. Die Suid-Afrikaanse opvatting van testeervryheid is tans van so ʼn aard dat dit ʼn testateur toelaat om sy of haar boedelbates te bemaak volgens sy of haar goeddunke, onderworpe aan ʼn paar statutêre en gemeenregtelike uitsonderings.
By die bepaling of ʼn spesifieke klousule in ʼn testament vervat kan word, sal sodanige klousule eerstens teen die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika getoets moet word om te bepaal of sodanige klousule moontlik op ʼn grondwetlik verskanste reg inbreuk maak. Verdere statutêre beperkings sluit onder meer die reg om oor onroerende eiendom te beskik wat gereël word deur die Wet op die Opheffing of Wysiging van Beperkinge op Onroerende Goed, die reg van ʼn minderjarige kind om onderhoud te eis van die boedel, die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades en die Wet op Pensioenfondse in.
Testeervryheid word direk gekoppel aan elke persoon se fundamentele regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika gewaarborg word. Die beginsel van testeervryheid is in verskeie sake aangespreek en word hierdie sake vervolgens bespreek.
Die tipe huweliksgoederebedeling ingevolge waarvan ʼn huwelik gesluit word is ʼn verdere beperking op die mate waartoe ʼn testateur vrylik oor sy of haar bates kan beskik. Die invloed van huwelike binne en buite gemeenskap van goedere op testeervryheid en die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades word ontleed, sowel as die onderhoudsverpligting wat ontstaan vanuit die huwelik tussen gades en teenoor minderjarige kinders.
Maatskaplike sekuriteit word gereël in terme van artikel 27 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en is artikel 37C van die Pensioenfondswet geïnkorporeer wat verseker dat ʼn persoon se pensioenvoordele moet voorsien aan die onderhoudsbehoeftes van afhanklikes van die lid. Die werking van artikel 37C en die invloed daarvan op testeervryheid word bespreek.
Die laaste beperking wat hanteer word is beperkings ten opsigte van bemakings van onroerende eiendom. Hierdie bemakings word beperk deur die werking van die Wet op die Opheffing of Wysiging van Beperkinge op Onroerende Goed asook die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond.
Die navorsingsverslag doen gevolglik ʼn in diepte ondersoek na die beperkings wat ontstaan op testeervryheid, die relevansie en werking daarvan en word daar bepaal of die beperkings as billik geag kan word of nie. / LLM (Estate Law), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15549
Date January 2014
CreatorsSiecker, Jodi
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0028 seconds