D.Ed. / Die motivering vir hierdie navorsing is die besef dat egskeiding 'n proses is wat noodwendig krisis en wanbalans in die lewens van alle betrokkenes in die gesin tot gevolg het. Dit kan die gesinslede etlike jare neem om weer aan te pas en selfvertroue in hul nuwe rolle en verhoudings te kry. Alle egskeidings word gekenmerk deur een belangrike eienskap, naamlik verandering. Sommige veranderings begin voor die fisieke skeiding en ander duur voort tot lank na die egskeiding. Verandering kan die klimaat in die gesin verbeter of verswak, maar dit dwing kinders altyd om aan te pas. Die sielkundige effek van egskeiding op kinders behoort dus op twee vlakke beskou te word. Die eerste vlak van verandering is waar kinders aanpas by die omwenteling wat die egskeiding meebring. In-diepte navorsing is reeds hieroor gedoen en toon dat die onmiddellike aanpassing na egskeiding vir kinders minder spanningsvol is — veral indien daar minder konflik en ontwrigting teenwoordig is. Die tweede vlak van verandering behels kinders se langtermyn-sielkundige aanpassing. Uit die literatuur is dit duidelik dat daar baie geskryf en gedoen is om ouers en kinders onmiddellik na hierdie krisis by te staan. Daar is egter min navorsing gedoen oor die langtermyneffek van egskeiding op kinders se lewens en hoe die egskeiding moontlik tydens volwassenheid onverwerkte trauma en emosionele probleme kan veroorsaak. Die navorser het die veld met haar eie stone as vertrekpunt betree. Hierna is fenomenologiese onderhoude met tien volwassenes tussen die ouderdomme van 28 en 35 jaar gevoer. Hul belewenis van hul ouers se egskeiding, wat tydens hul kinderjare plaasgevind het, is verken en beskryf. Die resultate toon dat hierdie volwassenes steeds worstel met onverwerkte wonde uit hul kinderjare, voortspruitend uit hul ouers se egskeidings. Hierdie onverwerkte wonde uit hul kinderjare het tot struikelblokke gelei wat hul verhoudings met hulself en met ander negatief beInvloed. Gevolglik is die geestesgesondheid van hierdie volwassenes nie bevorder nie en kon heelheid nie ervaar word nie. Hierdie navorsing het gelei tot die ontwikkeling van 'n model vir opvoedkundige sielkundiges om, tydens die proses van fasiliterende interaksie, volwassenes wie se ouers tydens hul kinderjare geskei is, tot heelheid te begelei ten einde geestesgesondheid te ervaar. Die ontwikkeling van die model het in vier stappe geskied. In Stap 1 is konsepte geldentifiseer, gedefinieer en geklassifiseer nadat die veldwerk afgehandel is. Guba se model is oorkoepelend gebruik om vertrouenswaardigheid in die kwalitatiewe metodologie te verseker. Dit verwys na die geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, vertroubaarheid en bevestigbaarheid van die navorsing. In Stap 2 is die verhoudingstelling van konsepte gedoen, waarna Stap 3 gevolg het, wat die beskrywing van die model behels het. Riglyne om die model te operasionaliseer is in Stap 4 gestel. Stappe 3 en 4 is geIntegreer en is nie afsonderlik bespreek nie. Die model is gerig op die begeleiding aan volwassenes wie se ouers tydens hul kinderjare geskei is, deur die proses van fasiliterende interaksie. Tydens hierdie proses word die volwassenes begelei om die struikelblokke wat die egskeiding gelaat het, te identifiseer, hulle persoonlike hulpbronne optimaal te ontwikkel en hulle ware self te ontdek, tot persoonlike insig te kom en outonomie te verkry ten einde heelheid te ervaar en geestesgesond te leef.
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:9599 |
Date | 05 September 2012 |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.0024 seconds