Return to search

An assessment framework for human resource management in specific higher education institutions.

Hoër onderwys in SA ondergaan tans ingrypende veranderinge. Groter toeganklikheid, veranderinge in die demografiese profiel van leerders en diversiteit asook die samesmeltings tussen verskeie hoër onderwysinstellings het die landskap van hoër onderwys beïnvloed. Die proses van transformasie en die gepaardgaande paradigmaskuif na uitkomsgebaseerde onderwys hou verskeie implikasies vir die assessering van leer in. Die doel van die studie is om ‘n assesseringsraamwerk vir die vakgebied Menslike Hulpbronbestuur aan universiteite van tegnologie (voorheen technikons) wat kontakonderrig verskaf, te ontwikkel. Met hierdie doel voor oë, is ‘n omvattende literatuurstudie oor assessering gedoen. Dit het gedien as ‘n teoretiese grondslag vir die assesseringsraamwerk. ‘n Kwalitatiewe benadering tot die studie is gevolg. Fokusgroeponderhoude met die leerders en dosente aan verskillende universiteite van tegnologie is gevoer. Dit is opgevolg met individuele onderhoude met die departementshoofde en beleidsmakers (dekane en vise-rektore). Deelnemers in die industrie wat direk werk met die leerders gedurende hulle tydperk van ervaringsleer as deel van koöperatiewe onderwys in die werkomgewing, is ook genader. Temas oor die verskillende datastelle is ontwikkel waaruit verskeie implikasies en bevindinge na vore getree het en geïnterpreteer is. Van die vernaamste bevindinge dui op die strategiese en oppervlakkige leerbenadering van die leerders; oorbeklemtoning van praktiese bevoegdheid ten koste van toegepaste bevoegdheid asook die onderbeklemtoning van kontinue assessering en die onderbeklemtoning van formatiewe assesseringsmetodes. Groot klasse lei daartoe dat die dosente en departementshoofde assesseringsmetodes kies wat maklik toegepas kan word en wat in die verlede sukses getoon het. Wanneer groepassessering toegepas word, verkies die dosente dit dat die leerders die punte toeken. ‘n Gebrek aan assesseringskriteria lei tot onsekerheid oor wat gedoen moet word in take en in die industrie tydens ervaringsleer. Volgens die data is die industrie ten gunste van betrokkenheid by die assessering van ervaringsleer. Hulle benodig uitkomsgebaseerde riglyne vir die assessering daarvan. Na die eksplisitering en integrasie van al die datastelle, is die assesseringsraamwerk vir Menslike Hulpbronbestuur ontwikkel. Dit sluit ‘n doel en omvang, rasionaal, begripsverklaring, rigtinggewende beginsels en die praktiese implementering daarvan en aanbevelings of voorvereistes waaronder die raamwerk geïmplementeer kan word, in. Die raamwerk gee erkenning aan toegepaste bevoegdheid, assessering wat ‘n integrale deel van leer vorm en praktiese metodes soos oopboekassessering, gevalstudies en aanbiedings. Metodes van assessering wat tot dusver nagelaat is soos joernale, portefeuljes, uitstallings en plakkaataanbiedings is ingesluit in die raamwerk. Variasie in die toepassing van spesifieke assesseringsmetodes word aanbeveel. Die industrie dien as ‘n vennoot in die assessering van die leerders. Die studie eindig met voorstelle rakende verdere navorsing. / Prof. H.C. Geyser

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:9696
Date24 June 2008
CreatorsBushney, Melanie Jean
Source SetsSouth African National ETD Portal
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0023 seconds