Return to search

Self-regulation for learners in a master's course in computer-based education.

M.Ed. / Selfregulering is sinoniem met akademiese sukses en onafhanklike leer. Selfgereguleerde leerders aanvaar verantwoordelikheid vir hul eie leer en vertoon ’n groter mate van dieper leer as leerders wat nie selfgereguleer is nie. Selfregulering word ook beskou as die blywendste en hoogs erkende uitkoms van leer. Opvoeders het ’n deurslaggewende rol om te speel in die voorbereiding van leerders om op hul eie te leer en in die voorsiening van ’n onderrigomgewing wat die gebruik van selfregulerende prosesse sal kweek. Ondersteuning wat in kursusse ingebou is, kan leerders se selfregulerende praktyke versterk en hulle help om onafhanklike leerders te word. Ongelukkig is selfregulering ’n moeilike onderriguitkoms om te behaal en baie leerders wat by hoëronderwysinstellings inskryf, beskik nie oor die nodige selfreguleringsvaardighede om die eise van hul studie te hanteer nie. Die literatuur het aangedui dat baie min studies uitgevoer is om te ontleed wat opvoeders doen om selfregulering in hul kursusse te ondersteun. Die doel van hierdie studie was om te bepaal in watter mate ondersteuning gebied word vir selfregulering in ’n meestersgraadkursus in rekenaargesteunde onderwys. Die studie het begin met ’n verkenning van die begrip “selfregulering”. Selfregulerende leerstrategieë en -prosesse wat met akademiese sukses en onafhanklike leer verband hou, is geïdentifiseer en vir die ontwikkeling van ’n waarnemingskedule gebruik. Hierdie waarnemingskedule is as die primêre instrument gebruik om die aanwesigheid of afwesigheid van ondersteuning vir selfregulering in die genoemde kursus te bepaal. Fokusgroep- en sleutelinformantonderhoude is gevoer om die leerders se persepsies van die kursus en hoe hierdie persepsies hul leer beïnvloed, te bepaal. Die onderhoude is as aanvullend by die gestruktureerde waarnemingskedule gebruik en is beskou as ’n waardevolle hulpmiddel om die bevindings van die waarnemingskedule te bevestig. Die bevindings van die studie toon duidelik waar ondersteuning vir selfregulering aanwesig is en waar dit steeds ontbreek. Die ingeboude ondersteuning in die kursus bied die leerders ruim geleentheid om die meeste selfregulerende leerstrategieë, maar nie almal nie, aktief te gebruik. Daar is verder vasgestel dat die leerders se verhoogde betrokkenheid by selfregulering oor die algemeen hul onafhanklikheid, akademiese prestasie en leeroordrag skyn te verbeter.

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:8128
Date11 February 2009
CreatorsVan Wyk, Michele Debora
Source SetsSouth African National ETD Portal
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0023 seconds