Return to search

Die ervaring van die geregistreerde verpleegkundedosent ten opsigte van die kliniese begeleiding van verpleegstudente

Die doel van die studie was om vas te stel hoe die verpleegkundedosent die begeleiding van verpleegstudente in die praktyk ervaar. In die verlede was begeleiding van verpleegstudente met praktika in gesondheidsorginstansies deur ʼn professionele verpleegkundige gedoen wat deel was van die personeel se verantwoordelikhede. Die verpleegstudente doen hul teoretiese kennis op by ʼn tersiêre instansie en verkry hul praktiese kennis by ʼn geakkrediteerde gesondheidsorginstansie soos vereis deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV). Een van die take van ‘n verpleegkundedosent van die privaat opleidingskool is om die kliniese begeleiding van verpleegstudente in geakkrediteerde instellings te doen. Omdat verpleging ʼn beroep is waar vaardighede belangrik is, is praktiese inoefening van prosedures en evaluering van die verpleegstudente se vaardigheid daarin noodsaaklik. Die verpleegstudente is heeltyd besig met die pasiënte in die vorm van prosedures waarby die teorie wat in die opleidingskool verkry was, gekorreleer moet word met die prosedure om die hele prentjie te vorm. Dit is dus nodig dat begeleiding van die verpleegstudente gedoen moet word om vaardigheid en toepassing van kennis te verseker. Die navorser het ʼn kwalitatiewe, ondersoekende, beskrywende en kontekstuele studie gedoen waarvan die populasie die geregistreerde dosente van verskeie provinsiale en privaatverpleegskole in die Klein-Karoo en Suid-kaapdistrikte was. Die navorser het gebruik gemaak van ʼn nie-waarskynlike steekproef. Inligtingryke data was ingesamel deur semi-gestruktureerde onderhoude wat aangevul was met veldnotas soos verkry tydens onderhoude. Data-ontleding was reeds begin met data-insameling en Tesch se inhoudsontleding was gebruik om ʼn mening te vorm. ‘n Literatuurkontrole was gedoen om te bepaal wat vorige navorsing oor begeleiding bevind en aanbeveel het. Lincoln en Guba se model was gebruik vir betroubaarheidsversekering volgens die kriteria wat hulle aanbeveel het, naamlik geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, betroubaarheid en bevestigbaarheid. Uit die data-ontleding het vier belangrike temas en subtemas te voorskyn gekom. Die temas was dat die verpleegkundedosente aspekte van die begeleiding van verpleegstudente in die gesondheidsorginstansie as positief en ook as negatief beleef. Die wyse waarop die gesondheidsorginstansies bestuur word, het die begeleiding beïnvloed en daar was riglyne voorgestel wat die kliniese personeel en dosente kan rig wanneer hulle betrokke raak by die begeleiding van verpleegstudente. Die begeleiding van verpleegstudente deur verpleegkundedosente, kliniese dosente en die gesondheidsorginstansie se opgeleide personeel, is ʼn belangrike deel van verpleegopleiding en bepaal uiteindelik die kwaliteit van die pasiëntsorg wat verskaf word deur die verpleegkundiges. Die navorser het riglyne daar gestel om die begeleiding van vepleegstudente te rig. Die riglyne moet nou geïmplementeer en getoets word binne die konteks van die bepaalde verpleegskole en dan weer geëvalueer word. Beperkings wat ondervind was in die studie was dat die steekproef ʼn klein groepie verpleegkundedosente op die platteland was, wat veralgemening bemoeilik, veral in die stedelike konteks. Die begeleiding van die verpleegstudente is gedoen met die ingeskrewe verpleegstudente (Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging Regulasies, Regulasie 2176 en 2175 van 19 November 1993), naamlik die kategorie met die minste status en verantwoordelikheid onder verpleegstudente. Veralgemening na alle kategorieë, veral verpleegstudente besig met professionele verpleegprogramme, mag dus nie sinvol wees nie.

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nmmu/vital:10053
Date January 2014
CreatorsDe Wet, Annemie
PublisherNelson Mandela Metropolitan University, Faculty of Health Sciences
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageAfrikaans
Detected LanguageUnknown
TypeThesis, Masters, MCur
Formatxvi, 107 leaves, pdf
RightsNelson Mandela Metropolitan University

Page generated in 0.0021 seconds