Hierdie verhandeling bied ʼn vergelykende ondersoek na ʼn aantal sogenaamde totemistiese
aspekte in geselekteerde kunswerke van twee kunstenaars, Walter Battiss (1906-1982) en José
Bedia (geb. 1959). Hierdie kunstenaars maak albei gebruik van ʼn benadering wat as
primitivisties getipeer kan word. Die klem berus op hul soeke na unieke visuele tale deur die
inkorporering van visuele en inhoudelike invloede uit primitiewe kunstradisies. Die ondersoek
geskied aan die hand van ʼn metodologiese ontleding en interpretasie van Battiss se Symbols of
life (1967) en José Bedia se Aquel lugar del fin del mundo (1999). Die ontledingsmetode is
saamgestel vanuit ‘n besinning oor primitivisme en totemisme as teoretiese begronding en is op
so ‘n wyse gerig om die hibridiese figure, oftewel teriantrope, in die onderskeie werke as totems
te interpretasie met die doel om meer insig te bekom met betrekking tot die aard van hierdie
figure asook die funksies waarvoor hierdie figure deur die kunstenaars gebruik is.
Die gevolgtrekkings wat deur die ontleding en interpretasie van die geselekteerde kunswerke in
hierdie studie gemaak word, behels dat die “lees” van die hibridiese figure in die onderskeie
kunswerke as totems daarop dui dat alhoewel die aard en funksies van hierdie figure van
mekaar verskil, daar wel noemenswaardige ooreenkomste is. Wat die aard van die hibridiese
figure in Symbols of life (1967) betref, is hierdie figure geïdentifiseer as ‘n spesie van
onbekende saamgestelde karakters waarvan die voorstellings gesamentlik ‘n bepaalde groep
mense impliseer, naamlik die Boesmans, en dat die uitbeelding van hierdie figure mitiese en
spirituele aspekte oproep van die Boesmans se wêreldbeskouings. Daarenteen is die hibridiese
figuur in Bedia se Aquel lugar del fin del mundo (1999) geïdentifiseer as ‘n Cimarron wat as ‘n
apikale totem op twee ontologiese vlakke figureer. Dit behels dat die uitbeelding van die
Cimarron ‘n spesifieke wese voorstel wat beide ‘n groep mense oproep, naamlik lede van
Sentraal-Amerikaanse Kreoolse kulture, en dat dit ook ‘n spesifieke individu oproep, naamlik
Bedia self.
Met betrekking tot die funksies wat die hibridiese figure in die geselekteerde kunswerke vervul,
plaas Battiss doelbewus die aanskouer in kontak met ‘n onbekende mitiese andersheid wat as
katalisator die aanskouer konfronteer met aspekte rakende die menslike kondisie. In
teenstelling hiermee, betrek Bedia met die uitbeelding van die Cimarron ‘n spesifieke en hoogs
gelade konteks wat bepaalde emosionele reaksies by die aanskouer kan ontlok.
Die interpretasie van die hibridiese figure in die geselekteerde kunswerke as totems dui in beide
gevalle daarop dat die kunstenaars deur hul onderskeie kunswerke van die die aanskouer
vereis om epistemologiese en ontologiese besinnings te maak oor wat dit beteken om mens te
wees, veral in ‘n eietydse omgewing, en noop verder van die aanskouer om te reflekteer oor
waarheen die menslike kondisie ontwikkel met inagname ook van wat in die proses verlore mag
gaan.
Hierdie verhandeling behels ʼn interdissiplinêre studie waarin die klem op die kunsgeskiedenis
berus, en waarin ter wille van die interpretasie van totems, ook gefokus word op die
antropologiese studies rakende totemisme. / MA (History of Art), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015
Identifer | oai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15509 |
Date | January 2014 |
Creators | Pretorius, Casper Francois |
Source Sets | North-West University |
Language | other |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.0022 seconds