Ooreenkomstig een van die beginsels wat in die onderwys in die vooruitsig gestel word, naamlik dat onderwysers lewenslange leerders is, behoort onderwysers hulself voordurend professioneel te ontwikkel, sodat die onderwys kan getuig van kwaliteit onderrig en leer. Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel moet aan die diversiteit van behoeftes van leerders voldoen en vra dus ‘n kreatiewe oplossing vir onderrig en leer.
Hierdie studie handel oor die rol van die departementshoof as begeleier van grondslagfase onderwysers. Navorsing verwys na ’coaching’ en kan dus direk vertaal word met 'afrigting.' Vir die doeleindes van hierdie studie hou ’coaching’ egter meer verband met begeleiding en sal dié term as vertaling dien. Navorsing in die veld van begeleiding in die onderwyssektor in Suid-Afrika blyk egter onbekend te wees. Daar blyk 'n behoefte aan bewysgebaseerde navorsing oor alternatiewe strategieë soos begeleiding te wees.
Die doel van hierdie studie is om te bepaal in hoe 'n mate departementshoofde van die grondslagfase binne die wetgewing en die regsraamwerk die onderwysers kan begelei binne die beperkte tyd tot hul beskikking. Die leerteoretiese beginsels van die andragogie, wat ook elemente van die kognitiewe leerteorie bevat, is vir die doeleindes van die studie as vertrekpunt gebruik. 'n Kwalitatiewe interpretivistiese benadering is gevolg ten einde die departementshoofde en bereidwillige onderwysers van vyf privaatskole se ervarings van begeleiding te kon bepaal. Semi-gestruktureerde onderhoude is met die deelnemers gevoer. Die studie het bevind dat die departementshoofde sowel as onderwysers deurlopende begeleiding nodig ag. Die deelnemende skole pas begeleiding meestal informeel toe, sonder ‘n begeleidingsmodel. Die departementshoofde se bestuur en onderrigleierskap is ondersoek en die studie het bevind dat onderwysers ‘n groot behoefte aan monitering en kontrole van hul departementshoofde verwag. Ewekniebegeleiding word weinig toegepas en is nog ‘n onbekende strategie vir die departementshoofde. Begeleiding as deurlopende strategie vir professionele ontwikkeling word verkies bo eendagwerkwinkels, aangesien begeleiding in die skool se spesifieke behoeftes kan voorsien. Die departementshoof as onderrigleier leef die visie van die skool voor, hoofsaaklik deur gedeelde waardes. Die meeste departementshoofde maak gebruik van refleksietegnieke vir begeleiding, maar verlang meer opleiding hierin. In hierdie studie is bevind dat die grootste voordeel van begeleiding daarin lê dat dit probleemoplossende denke stimuleer en nuwe onderrigmetodes aanleer. Begeleiding het bepaalde uitdagings en ewekniebegeleiding word veral deur sommige onderwysers as intimiderend en evaluerend beskou. Die studie het ook bevind dat departementshoofde beperkte tyd vir begeleiding het. Die studie maak laastens die nodige aanbevelings vir begeleiding na aanleiding van die literatuur en bevindinge van die studie. / Dissertation (MEd)--University of Pretoria, 2014. / tm2015 / Education Management and Policy Studies / MEd / Unrestricted
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/45875 |
Date | January 2014 |
Creators | Du Plessis, Jeanette |
Contributors | Joubert, Hendrika J. (Rika) |
Publisher | University of Pretoria |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Language | Afrikaans |
Detected Language | Unknown |
Type | Dissertation |
Rights | © 2015 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria. |
Page generated in 0.0027 seconds