Return to search

Stakeholders' perception regarding sustainable development in rural areas around Nelspruit.

M.Ed. / Volhoubare ontwikkeling verwys na ontwikkeling wat in teenswoordige behoeftes voorsien sonder om die vermoë van toekomstige geslagte om in hul behoeftes te voorsien te benadeel. Die feit dat volhoubare ontwikkeling noodsaaklik is vir die oorlewing van alle lewende wesens is reeds algemene kennis. Dit is ook bekend dat die bevolkings van plattelandse gebiede wêreldwyd dit moeilik vind om ‘n aanvaarbare leefstyl te handhaaf. Teen hierdie agtergrond het die onderhawige studie gepoog om die stand van volhoubare ontwikkeling in ‘n spesifieke plattelandse streek in Mpumalanga te ondersoek. In ‘n gekombineerde kwalitatiewe en kwantitatiewe benadering is die persepsies van ‘n groep respondente met betrekking tot die implementering van volhoubare ontwikkeling in hulle areas ondersoek. Die veldwerk is gedoen teen die agtergrond van ‘n studie van verskillende aspekte van volhoubare ontwikkeling, insluitende definisies en ‘n kort historiese oorsig. Aspekte van volhoubare ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse konteks is ook kortliks bespreek. In hierdie studie, wat in die Opvoedkunde onderneem is, is ook gefokus op die rol van Omgewingsopvoeding in volhoubare ontwikkeling. Drie-punt- en vyf-punt-skaal vraelyste is aan ‘n groep inwoners van drie streke in die Nelspruit-omgewing gestuur. Die gegewens wat hiermee ingewin is, is verwerk om ‘n beeld te kry van die impak van aspekte wat in die vraelyste ingesluit is, veral ten opsigte van die verligting van armoede, werksvoorsiening, dienste, die rol van gemeenskappe en tradisionele leiers, bevolkingsaanwas, buitelandse beleggings, veiligheid, MIV/VIGS en so meer. Hierdie aspekte is verder kwalitatief ontleed na aanleiding van ses semi-gestruktureerde individuele onderhoude wat met verskillende rolspelers in die betrokke gemeenskappe gevoer is. Hoewel die onderhoude volgens ‘n vooropgestelde skedule gevoer is, is respondente toegelaat om hul eie insette te lewer. In die uitvoer van die veldwerk en by die ontleding van data is verskillende aspekte van vertrouenswaardigheid van navorsing in die geesteswetenskappe in ag geneem. Die gegewens wat uit die vraelyste verkry is, is aanvanklik bespreek, gevolg deur ‘n samevatting van temas uit die onderhoude. Hierdie ontleding het bevestig wat reeds in die vraelyste duidelik geword het, naamlik dat volhoubare ontwikkeling in die betrokke gebiede grootliks ‘n onvervulde ideaal bly, met min of geen praktiese toepassing. Omgewingsbewustheid en –opvoeding is steeds nie na wense nie. Verskillende redes hiervoor is aangevoer, maar die hoofoorsaak blyk armoede te wees. Hoewel verskeie inwoners oorspronklike planne het om hul omstandighede te verbeter, is daar ‘n gebrek aan geld en hulpbronne om dit tot uitvoer te bring. As gevolg van die agterstande ten opsigte van opvoeding en onderwys wat in die vorige politieke bedeling ontstaan het, is daar ook nie voldoende vaardighede om mense in staat te stel om programme sinvol te implementeer en te bestuur nie. Respondente beleef ook dat buitelandse beleggings nie bydra om hul lot te verbeter nie en dat daar min gedoen word om hul veiligheid te verseker. Inwoners neem in sommige gevalle die reg in eie hande om hulle teen bendes te beskerm. ‘n Kommerwekkende bevinding is die feit dat bevolkingsgroei-programme wat daarop gemik is om bevolkingsaanwas te vertraag misluk op grond van die bedrag wat deur die staat toegeken word vir babas. Jong meisies raak swanger om hierdie paar rand per maand te bekom. Hierdie saak word vererger op grond van die feit dat werkloosheid aan die orde van die dag is. Die studie is afgesluit met aanbevelings – gegrond op data wat in die ondersoek verkry is – ten opsigte van volhoubare ontwikkeling in die betrokke gebiede. Dit behels onder meer die volgende: • Die ontwerp van werkbare strategieë vir volhoubare ontwikkeling. Hierdie strategieë moet binne aanvaarbare tydsgrense toegepas word. • Die infra-struktuur en dienslewering moet verbeter word. • Ekonomiese ontwikkeling op ‘n gemeenskapsgrondslag is van kardinale belang. • Vaardigheidsontwikkeling, nie net ten opsigte van konkrete arbeid nie, maar ook met betrekking tot die bestuur van projekte moet voorop gestel word. • Veiligheidsmaatreëls in plattelandse gebiede moet opgeskerp word. • Gemeenskappe moet omgewingsbewus gemaak word, veral deur middel van omgewingsopvoeding. • Almal behoort betrokke te wees by die voorkoming van MIV/VIGS. • Plattelandse gemeenskappe behoort finansieel ondersteun te word. / Prof. H.G. van Rooyen

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:11838
Date14 October 2008
CreatorsMathebula, Doreen Edice
Source SetsSouth African National ETD Portal
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0292 seconds