Return to search

Die onderrig van Scratch met die oog op die aanleer van Delphi as objekgeoriënteerde programmeertaal / Susarah van Zyl

Volgens die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring moet Inligtingstegnologie-leerders in graad 10 aanvangsonderrig in Scratch as programmeertaal ontvang en in graad 11 na Delphi of Java as programmeertaal oorskakel.
In Noordwesprovinsie word Delphi as programmeertaal in graad 11 bestudeer. Die aard van Scratch en dié van Delphi verskil egter van mekaar. Scratch is ʼn visuele programmeertaal met ʼn speelse aard, waar boublokke met ingeboude programmeringskode inmekaar gepas word om programme te skep, terwyl programmeringskode in Delphi, onderhewig aan sintaktiese reëls, ingetik word. Daar word verder van leerders verwag om by Delphi ʼn objekgeoriënteerde programmeringsbenadering te volg terwyl Scratch as ʼn objekgebaseerde programmeertaal beskou word.
Die oorgang vanaf Scratch na Delphi is nog nie tevore in navorsing ondersoek nie. Die doel van hierdie navorsing was dus om te bepaal hoe Scratch aan graad 10-leerders onderrig behoort te word om die oorgang na Delphi as sintaksisgebaseerde, objekgeoriënteerde programmeertaal te ondersteun. ʼn Kwalitatiewe studie is gedoen waartydens onderhoude met agt Inligtingstegnologie-onderwysers in Noordwesprovinsie gevoer is.
Aan die begin van 2013 is die eerste onderhoude gevoer om te bepaal hoe Scratch in graad 10 onderrig is. Ná verloop van ses maande is ʼn tweede onderhoud met elke deelnemende onderwyser gevoer om te bepaal hoe die oorgang na Delphi in graad 11 ervaar is. Die bevindings dui daarop dat deelnemende onderwysers onseker was hoe om Scratch te onderrig en dat programmeringsbeginsels en -begrippe nie pertinent onderrig is nie. Onderwysers het op leerders se intuïtiewe begrip van programmeringsbegrippe staatgemaak en geskikte onderrig–leerstrategieë is nie toegepas nie. Met die oorgang na Delphi in graad 11 het onderwysers aangedui dat hulle programmering feitlik weer van voor af moes onderrig en dat baie min programmeringsbegrippe na Delphi oorgedra is. Onderwysers was onder druk om
programmeringsbegrippe wat in graad 10 reeds vasgelê moes gewees het, tesame met nuwe begrippe wat vir die onderrig van Delphi benodig was, te onderrig.
Voorstelle van onderwysers om toekomstige druk te verlig, het betrekking gehad op ʼn inkorting in Scratch-onderrigtyd en was nie gerig op die onderrig van programmeringsbeginsels en -begrippe in Scratch met die oog op die oorgang na Delphi nie. Tydens die navorsing is bevind dat die meeste programmeringsbeginsels en -begrippe reeds met Scratch onderrig kan word. Scratch-onderrig, met die oog op die oorgang na Delphi, moet egter noodwendig anders geskied as Scratch-onderrig ten einde ʼn belangstelling vir programmering te kweek. Na aanleiding van hierdie navorsing word aanbevelings gemaak om Scratch te onderrig, sodat die kennis en vaardighede wat graad 10-leerders met Scratch opdoen, verband hou en toegepas kan word op Delphi. Om onderwysers te ondersteun en hulle onsekerheid van Scratch-onderrig die hoof te bied, word spesifieke aanbevelings met betrekking tot die onderrig van Scratch gemaak ten opsigte van probleemvoorstelling en algoritme-ontwerp, instandhouding, foutopsporing en fouthantering, veranderlikes en datatipes, herhaling- en besluitnemingstrukture, objekgeoriënteerde begrippe, bewerkingsoperators, karakterhantering en ʼn onderrig–leerstrategieë vir Scratch. / MEd (Computer Science Education), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15737
Date January 2014
CreatorsVan Zyl, Susarah
Source SetsNorth-West University
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0035 seconds