Return to search

Die invloed van twee onderrigbenaderings op Graad 6 leerders se studieoriëntasie in Wiskunde

Hierdie studie handel oor die invloed van twee onderrigbenaderings naamlik tradisioneel en sosiaal-konstruktivisties, op Graad 6-leerders se studieoriëntasie in Wiskunde. Om die omvang hiervan beter in perspektief te plaas is daar gekyk na wat die moontlike verskille is tussen die tradisionele sowel as die sosiaal-konstruktivistiese onderrigbenaderings ten opsigte van Graad 6-leerders se studieoriëntasie in Wiskundeprestasie. Literatuur dui aan dat leerders swak presteer en noem faktore wat moontlik bydra. Verder dui die literatuur aan dat daar nie genoeg navorsing is ten opsigte van ontoereikende wiskundeprestasie nie. Dit is kommerwekkend dat daar tot dusver redelik min navorsing gedoen is wat Graad 6-leerders se ontoereikende prestasie in Wiskunde aanbetref (Rademeyer, 2009) aangesien dit so ’n belangrike rol speel tot die beroepswêreld (Salman et al, 2010). Maree, Pretorius en Eiselen (2003) meen dat verbetering in Wiskundeprestasie moontlik gefasiliteer kan word deur op die leerders se ontoereikende studieoriëntasie te fokus en dít dan so te probeer verbeter.
Die konseptuele raamwerk van hierdie studie rus op Vygotsky se sone van proksimale ontwikkeling (Maimane, 2006) sowel as Bronfenbrenner se ekologiese teorie en die konseptuele raamwerk (Santrock, 2001; Bronfenbrenner,2012)
Die navorsingsvrae lui dan as volg:
Primêre navorsingsvraag: Wat is die verskil tussen die tradisionele sowel as die sosiaal-konstruktivistiese onderrigbenadering ten opsigte van Graad 6-leerders se studieoriëntasie in Wiskundeprestasie?
Eerste sekondêre vraag: Hoe verskil die tradisionele onderrigbenadering ten opsigte van die sosiaal-konstruktivistiese onderrigbenadering?
Tweede sekondêre vraag en hipotese: Wat is die verskil in Wiskundeprestasie voor en na die intervensie ten opsigte van die twee onderrigbenaderings?
Derde sekondêre vraag en hipotese: Wat is die verskil in studieoriëntasie voor en na die intervensie ten opsigte van die twee onderrigbenaderings? Hierdie studie word beskou deur pragmatisme as ’n wêreldbeskouing en filosofiese fondasie aangesien pragmatisme die heel beste pas by die gemengde navorsingsmetode. Die konvergente navorsingsontwerp is die ideale navorsings-ontwerp vir hierdie studie aangesien dit die bekendste benadering tot die gemengde navorsingsmetode is. Vir die kwalitatiewe data-insameling is ek gebruik gemaak van fokusgroeponderhoude wat drie maal gehou is met beide die groepe, altesaam ses sessies. Daar was sewe leerders wat elk van die groepe verteenwoordig het, veertien leerders altesaam. Daar is gebruik gemaak van ’n individuele onderhoud met die Wiskundeonderwyseres aan die einde van die intervensie tydperk. Die data was geanaliseer deur inhoudsanalise.
Die kwantitatiewe data is ingesamel deur die Studieoriëntasievraelys in Wiskunde (Primêr) (SOW(P)) en ook ’n formele wiskunde toets aan die begin en aan die einde van die intervensie tydperk. Daar was twintig leerders wat deelgeneem het aan die tradisionele groep en twintig leerders wat deelgeneem het aan die sosiaal-konstruktivistiese groep. Daar was altesaam veertig leerders betrokke by die studie.
Die kwalitatiewe data-analise het uitgedraai op vier verskillende temas: faktore wat Wiskunde makliker maak vir leerders, faktore van Wiskunde wat vir leerders onaangenaam is, faktore van introspeksie en ook ander interessante faktore. Ek het ook observasies en addisionele data vanaf die Wiskundeonderwyseres verkry deur die individuele onderhoud.
Vir die doeleindes van die kwantitatiewe data is gebruik gemaak van beskrywende sowel as inferensiële statistieke om die data te analiseer. Daar is gebruik gemaak van die paar-steekproef studente t-toets. Alles is dan na aanleiding van die data-analise bespreek en na aanleiding van my bevindinge en resultate is daar gevind dat daar wel ’n verskil is tussen die tradisionele onderrigmetode en die sosiaal-konstruktivistiese onderrigbenadering. Dit was ook duidelik dat daar ’n waarskynlike verskil tussen die voor-toets en die na-toets van die tradisionele sowel as die sosiaal-konstruktivistiese groep se Wiskundeprestasie is en dus is beide as statisties beduidend aanvaar. Wat die studieoriëntasie aanbetref het die uitkoms getoon dat daar geen verskil was tussen die voor-toets en die na-toets van die tradisionele groep nie, dus toon dit om nie statisties beduidend te wees nie . Daar was wel ’n waarskynlike verandering tussen
die voor-toets en die na-toets van die sosiaal-konstruktivistiese groep se studie-oriëntasie en aanvaar ek dit dus as statisties beduidend. / Dissertation (MEd)--University of Pretoria, 2013. / gm2014 / Educational Psychology / unrestricted

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/40447
Date January 2013
CreatorsDombai, Annetjie
ContributorsScherman, Vanessa, annetjiedombai@yahoo.com, Lubbe-De Beer, Carien
PublisherUniversity of Pretoria
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageAfrikaans
Detected LanguageUnknown
TypeDissertation
Rights© 2013 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria.

Page generated in 0.0035 seconds