Return to search

Die verskuiwing van leerders na klasse vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes : 'n oorgangsteoretiese ondersoek / Johanna Gertruida Louw

Die erkenning van verskille tussen alle leerders en die strewe om te bou op die ooreenkomste is die grondslag waarop inklusiewe onderwys berus. Verder word daar altyd in ag geneem dat alle leerders op die een of ander tydstip ondersteuning benodig om volle waarde uit onderwys te put.
Die onderwysstelsel in die inklusiewe bestel is reeds besig met aanpassings om hierdie ondersteuning aan te spreek, soos dat spesiale skole as hulpbronne dien vir ander hoofstroomskole in hul omgewing. Die skep van voldiensskole is ook ’n aanpassing aan die stelsel.
Suid-Afrika beweeg na ’n meer inklusiewe onderwysstelsel, terwyl leerders terselfdertyd ook tussen verskillende stelsels beweeg, naamlik die hoofstroomonderwysstelsel wat merendeels inklusief is in soverre dit lae en matige vlakke van leerderondersteuning betref, en die spesiale onderwysstelsel wat voorsiening maak vir hoër vlakke van leerderondersteuning. Sommige leerders bevind hulle dus in ’n oorgang tussen stelsels. Derhalwe het ek die teoretiese raamwerke van die oorgangsteorie en die liminaliteitsteorie gebruik om die oorgang van leerders van een stelsel na ’n ander stelsel te ondersoek.
Oorgang word beskryf volgens die rigting waarin die oorgang beweeg – horisontaal tussen spesifieke omgewings in dieselfde tydperk, en vertikaal tussen verskillende omgewings en oor ’n tydperk. Die oorgang van leerders van ’n hoofstroomklas na ’n klas vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes (LSOB-klas) in ’n spesifieke voldiensskool is ’n horisontale beweging, aangesien dit in dieselfde omgewing (dieselfde skool) geskied en dit geskied in dieselfde tydperk waartydens hulle portuurgroep in die hoofstroomklas bly.
Leerders met leerhindernisse in so ’n voldiensskool word, as gevolg van die graad van hulle hindernisse, onder sekere voorwaardes by sekere skole na ’n LSOB-klas in hulle skool verskuif. Hierdie klasse dien as ’n tussentydse maatreël totdat leerders weer in ’n hoofstroomklas teruggeplaas kan word. Die vraag hoe leerders die oorgang na sulke klasse ervaar, is in hierdie navorsing ondersoek.
Die navorsing is gedoen by ’n voldiensskool in Potchefstroom in die Noordwesprovinsie, wat as gevolg van die graad van sommige leerders se leerhindernisse drie LSOB-klasse het.
Onderhoude is gevoer met nege huidige en nege vorige onderwysers van nege geselekteerde deelnemers wat leerders in die LSOB-klasse (drie deelnemers uit elke klas) in die voldiensskool was. Onderhoude is ook met die ouers van die nege deelnemers gevoer.
Drie fokusgroeponderhoude is met elke LSOB-klas se geselekteerde leerders gevoer. Alle onderhoude is getranskribeer, gekodeer en ontleed deur middel van tematiese analise.
Die bevindings van die empiriese studie is verdeel in intrapersoonlike en interpersoonlike faktore. Hierdie faktore is verder in verskillende temas verdeel.
Die intrapersoonlike faktore het die volgende temas ingesluit: Emosionele ontwikkeling; groepsdruk; selfbeeld en selfvertroue; gevoel van verlies; ’n oorgang wat traumaties, senutergend, verwarrend en vol spanning en angs was en aggressie ontlok het; vlak van sekuriteit; en vermoë om sy of haar man te staan in moeilike situasies.
Die interpersoonlike faktore het die volgende ingesluit: Sosiale vaardighede, verlies van vriende, verlies van sosiale status, en die gevoel dat die oorgang na ’n LSOB-klas net tydelik is.
Hierdie studie het ’n belangrike bydrae gelewer tot die bestaande kennisbasis betreffende die verskuiwing van leerders na LSOB-klasse en die aspekte wat ’n invloed het op hierdie oorgang. / MEd (Learner Support), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15372
Date January 2014
CreatorsLouw, Johanna Gertruida
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0023 seconds