Return to search

Tragiese teater as politieke ruimte : die Griekse tragedieskrywers en die deugde - etiek

Hierdie studie, wat handel oor die Griekse tragedieskrywers en die deugde-etiek, val in vier hoofdele uiteen. In die eerste plek (afdeling 2) begin dit met ’n bespreking van die werk van die drie belangrikste tragedieskrywers – Aischulos, Sophokles en Euripides – en die sosiopolitieke tydsgewrig waarin dit geskryf is. Hierna word drie tekste van elke skrywer bespreek: Sewe teen Thebe van Aischulos; Antigone van Sophokles en Hippolutos van Euripides.
Teen hierdie histories-vergelykende agtergrond volg ’n tematiese bespreking van die Griekse tragedieskrywers in die tweede plek (afdeling 3). Temas wat aan die bod kom sluit in: 1) Die rol van die antieke teater in die breë Griekse identiteit, veral met betrekking tot die tema van die individu binne die gemeenskap, en die verhouding tussen gehoor en kunswerk. 2) Die tema van die tragiese mens – en meer spesifiek die tragiese individu en sy/haar identiteit. 3) ’n Bespreking van die verhouding tussen die private (oikos) en openbare (polis) in antieke Griekeland.
Hierdie tematiese bespreking dien dan as aanknopingspunt vir ’n bespreking van Aristoteles se deugde-etiek wat in die derde plek (afdeling 4) aan die beurt kom.
In die laaste gedeelte van hierdie studie (afdeling 5) word gepoog om die verskeie temas soos behandel deur die Griekse tragedieskrywers, die politieke ruimte van die tragiese teater en Aristoteles se deugde-etiek, in gesprek te plaas met die estetiese en politieke implikasies van Gadamer se filosofiese hermeneutiek.
Uiteindelik poog die studie om ‘n alternatief te formuleer op die gedepolitiseerde individu, wat in ons eie tyd ‘n probleem geword het. Teen die agtergrond kan dit verhelderend wees om te gaan kyk na hoe die klassieke tragedies, op die vooraand van Aristoteles se deugde-etiek, oor die kwessie van die verhouding tussen mens en samelewing nagedink het. Een van die punte wat hierdie werkstuk aanspreek, is dat die oorbeklemtoning van die individu in vandag se wêreld ʼn verlies aan tragiese wêreldbeskouing meebring, en dat dit ‘n verlies is wat die lewe van die individu en van die gemeenskap ten nouste raak. As alternatief word aangevoer dat die herstel van ’n holistiese, esteties-etiese lewensbeskouing tot groter politieke vervulling vir die mens kan lei as wat die eietydse mens beskore is. / Dissertation (MPhil)--University of Pretoria, 2014 / gm2015 / Philosophy / MPhil / Unrestricted

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/43565
Date January 2014
CreatorsBothma, Rachel
ContributorsDuvenage, Pieter
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageEnglish
Detected LanguageUnknown
TypeDissertation
Rights© 2014 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria.

Page generated in 0.1209 seconds