Return to search

Vergelyking van Tilapia (Oreochromis Mossambicus)en Koi (Ciprinus Carpio) in verskillende produksiestelsels

Die studie was uitgevoer om te bepaal of warmwaterspesies soos tilapia (Oreochromis mossambicus) en koi (Ciprinus carpio) gebruik kan word as deel van 'n roterende akwakultuur produksie sisteem in die Wes-Kaap. Drie produksiestelsels (drywende hokstelsel; gronddamme en hersirkuleringseenheid) was ge-evalueer vir beide tilapia en koi produksie. Twee verskillende diëte (tilapia, 32% proteien, 'n lae waarde dieet en koi, 32% proteien, 'n hoë waarde dieet) was ook ge-evalueer vir die effek op koi produksie. Tilapia- en koi vingerlinge was teen dieselfde lading (250/hok) in elke produksiestelsel geplaas. By die begin van die proewe het die tilapia vingerlinge 'n gemiddelde gewig van 60-80g en die koi vingerlinge 'n gemiddelde lengte van 30-40 mm gehad. Die visse is twee keer per dag gevoer en data is op 'n maandelikse basis oor 'n periode van 84 dae versamel. Produksie data vir die tilapia versamel was: 1) die gemiddelde daaglikse toename, 2) die totale voer verbruik, 3) water temperature en 4) mortaliteite is daagliks aangeteken. Die produksie data versamel vir koi wat twee verskillende diëte ontvang het in drie verskillende produksiestelsels was: 1) die gemiddelde daaglikse toename in lengte, 2) die totale voer verbruik, 3) water temperature en 4) mortaliteite is daagliks aangeteken. Die resultate van die tilapia studie het aangedui dat tilapia in die hersirkuleeringseenheid het deurgaans 'n swaarder gewig gehad (p<0.05) as die van die drywende hokstelsel en gronddam stelsel. Terwyl die gronddam stelsel weer 'n swaarder gewig gehad het as die drywende hokstelsel behalwe vir April (171,67 / 39,49 vs 159,33 / 22,15). Nieteenstaande die verskil in begin gewig en eind gewig in die guns van die tilapia in die hersirkuleringseenheid teenoor die ander twee stelsels het die GDT tussen die drywende hokstelsel en die hersirkuleringseenheid nie noemenswaardig verskil nie (1,20 / 0,15 vs 1,40 / 0,24). Die tilapia in die gronddamme het egter swakker (p<0,05) gewigstoename van 0,72 / 0,32 g gehad teenoor die tilapia in die drywende hokstesel 1,40 / 0,24 g en 1,20 / 0,15 g van die tilapia in die hersirkuleringseenheid. Tilapia in die gronddamme het dus ongeveer 45% swakker gemiddelde gewigstoename getoon as die van die drywende hokstelsel en hersirkuleringseenheid. Die produksiestelsel het 'n hoogs betekenisvolle invloed (p<0,001) op die groeipotensiaal van tilapia gehad in hierdie studie. Die gemiddelde totale hoeveelheid voer verbruik was nie statisties verskillend tussen die drywende hokstelsel en gronddam stelsel nie (29,83 / 2,66 vs 30,83 / 5,42), maar wel (p<0,05) vir die hersirkuleringseenheid (29,94 / 0,88). Die VOV het nie verskil tussen die drywende hokstelsel en hersirkuleringeenheid, maar daar was wel 'n verskil (p<0,05) tussen hierdie twee stelsels en die van die gronddamme. Die totale gemiddelde mortaliteite van tilapia was die hoogste (p<0,05) vir die drywende hokstelsel in vergelyking met die gronddamme en hersirkuleringseenheid. Die drywende hokstelsel het 14,67 / 14,61% meer mortaliteite gehad as die gronddamme en hersirkuleringeenheid. Die koi studie se resultate dui aan dat die tipe stelsel het 'n hoogs betekenisvolle (p<0,001) invloed gehad op die gemiddelde toename in lengte van die koi vis vir die somerseisoen. Die tipe dieet het geen invloed op die toename in lengte van koi vis vir al drie die stelsels ge-evalueer, maar die interaksie tussen dieet en die tipe stelsel was wel betekenisvol (p<0.05). Die interaksie tussen die tipe dieet en die tipe stelsel was die hoogste vir die groddamme 136,41 / 32,46 mm en 136,25 / 33,08 mm vir beide tilapia en die koi diëte gevoer. Die gemiddelde totale voer wat deur koi visse in die drie stelsels verbruik is, het wel statisties van mekaar verskil (p<0,05). Koi visse in die gronddam stelsel het meer voer verbruik vir beide die tilapia- en koi dieet (31,03 / 2,01 en 29,67 / 3,57) in vergelyking met die (26,35 / 2,44 ; 26,98 / 0,49 en 5,50 # 0,52 en 6,13 / 0,22) vir die drywende hokke en hersirkuleringseenheid stelsels onderskiedelik. Die % mortaliteite was betekenisvol (p<0,05) vir die verskillende stelsels. Koi visse in die hersirkuleringseenheid het die hoogste mortaliteite gehad vir beide die tilapia en die koi diëte (65,50 / 18,07% en 79,50 / 38,27%) terwyl koi visse in die gronddamme die laagste mortaliteite ondervind het (1,20 / 1,20% en 2,33 / 4,89%) vir beide die tilapia en koi diëte. Die koi in die gronddam stelsel het die beste resultate gelewer en dit is ook moontlik om koi 'n lae waarde dieet te voer sonder nadelige effekte op produksie.

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nmmu/vital:10967
Date January 2002
CreatorsVan der Merwe, Johan Philip
PublisherPort Elizabeth Technikon, Faculty of Science
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageAfrikaans
Detected LanguageUnknown
TypeThesis, Masters, MTech (Agricultural Management)
Formatxii, 74 leaves, pdf
RightsNelson Mandela Metropolitan University

Page generated in 0.0026 seconds