Return to search

Die belewenis van stres deur bestuurders van Suid-Afrikaanse Vrouefederasie-tehuise en-behuisingskemas

M.A. / Stres is ’n welbekende verskynsel in hedendaagse tye wat ’n ernstige impak het op die maatskaplike funksionering van mense. Individue ervaar dikwels hierdie impak veral binne hul werkomgewings, wat ’n direkte impak het op hul prestasies, medewerkers en kliënte. Binne diensorganisasies, soos die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, is daar vele uitdagings wat daagliks verskeie stresvolle situasies vir werknemers tot gevolg het. Wanneer hierdie situasies nie korrek hanteer word deur die beskikbaarheid en toepassing van doelgerigte intervensies, effektiewe streshanteringsvaardighede en ondersteuningsnetwerke nie, kan dit die kwaliteit diens negatief beïnvloed. Bestuurders van tehuise en behuisingskemas vir bejaardes en gestremdes vervul ’n baie verantwoordelike rol in hierdie inrigtings. Hierdie individue is aanspreeklik vir elke personeellid, inwoner en aksie wat vanuit die inrigting van stapel gestuur word. Deur middel van professionele waarneming deur die navorser, erkenning deur sekere van die bestuurders dat hulle wel stres ervaar, asook twee stresmetings, is vasgestel dat stres beslis ’n realiteit is binne die maatskaplike sisteme waarbinne hierdie individue funksioneer. Verskeie faktore dra by tot die belewenis van hul stres, waarby organisatoriese strukture, werkomstandighede, interpersoonlike verhoudings en verwagtinge slegs ’n paar is. Hierdie navorsingstudie se fokus is veral daarop gerig om te bepaal watter van hierdie faktore wel ’n rol speel sodat aanbevelings en riglyne vir die SAVF se oorweging aangebied kan word. Dit was die navorser se voorneme om deur middel van hierdie studie ‘n professionele ondersoek van stapel te stuur na die belewenis van stres deur bestuurders werksaam in die SAVF, sodat riglyne vanuit die ondersoek se resultate saamgestel kon word. Hierdie riglyne se doel is tweevoudig, eerstens om die individuele maatskaplike funksionering van die bestuurders te bevorder en tweedens om ’n positiewe impak op die kwaliteit diens wat vanuit hierdie strukture gelewer word, te fasiliteer. Stres is ‘n verskynsel wat dikwels ontken word en beslis nie die nodige erkenning en korrekte aandag ontvang nie. Veral binne diensorganisasies word die klem van ondersteuning en hulp hoofsaaklik op die kliëntesisteme geplaas, en dikwels word daar van diegene wat die diens lewer, se maatskaplike behoeftes vergeet. Met hierdie studie hoop die navorser om ’n positiewe bydrae te lewer om hierdie tendens effektief aan te pak.

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:8257
Date31 March 2009
CreatorsLamprecht, Verlaine
Source SetsSouth African National ETD Portal
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0023 seconds