• Refine Query
  • Source
  • Publication year
  • to
  • Language
  • 1
  • Tagged with
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • 1
  • About
  • The Global ETD Search service is a free service for researchers to find electronic theses and dissertations. This service is provided by the Networked Digital Library of Theses and Dissertations.
    Our metadata is collected from universities around the world. If you manage a university/consortium/country archive and want to be added, details can be found on the NDLTD website.
1

Lewe en werk van Walter Battiss met besondere verwysing na sy grafiese kuns

Schoonraad, Murray George January 1974 (has links)
Walter Whall Battiss is in 1906 in Somerset-Oos gebore en het in die Oranje Vrystaat groot geword waar hy in sy kinderjare met prehistoriese rotsgravures kennis gemaak het. Hieruit het sy groot bewondering vir die rotskuns gespruit, wat in later jare so 'n groot invloed op sy kuns sou hê. Battiss se kunsloopbaan het in erns op Rustenburg, Transvaal, waar hy in die landdroskantoor werksaam was, 'n aanvang geneem. Hier het hy bevriend geraak met Erich Mayer en ook sy eerste kunsuitstalling gehou van 26 tot 27 Augustus 1927. Battiss het weinig formele kunsopleiding ontvang en wel slegs in Suid-Afrika aan die Johannesburgse Kunsskool vir kort periodes gedurende 1929 tot 1933. Van 1930 tot 1933 was hy voltydse student aan die Johannesburg Teachers' Training College en het daarna vir die volgende dertig jaar onderwys gegee, eers aan die Park School Turffontein en toe aan die Pretoria Boys' High School. In 1938 het hy saam met enkele ander kunstenaars die Nuwe Groep gestig. Daarna het hy deurgaans 'n leidende rol in die kunsverenigingslewe in Suid-Afrika gespeel. In 1938 het hy ook sy eerste reis na Europa onderneem waar hy met die werke van Van Gogh en die destydse modernes soos Picasso, Matisse en Modigliani in aanraking kom. Deur die jare sou Battiss talle reise na Europa en verskillende dele van Afrika onderneem en telkens die indrukke wat hy so verkry het in sy kuns verwerk. Vanaf 1953-1958 was hy hoof van die Provinsiale Kunssentrum in Pretoria en in 1959 het hy vir ses maande as professor in Skone Kuns aan die Universiteit van Rhodes, Grahamstad, diens gedoen. Vanaf 1959 tot 1964 het hy onderwys gegee en in 1965 is hy as professor in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika aangestel. Sedert sy aftrede in 1971 is hy in Pretoria woonagtig. Battiss het verskeie toekennings ontvang: 'n diploma en brons medalje op die 14e Internasionale Olimpiese uitstalling (1948); Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1964) en 'n ere-doktorsgraad van die Universiteit van Suid-Afrika (1973). Battiss is die outeur van twaalf boeke en het reeds 241 uitstallings gehou, waarvan 64 eenmanuitstallings was. Deur middel van sy gebruik van kleur en die invloed van die inheemse kuns in sy werk, het hy Suid-Afrika bewus gemaak daarvan dat 'n Europese benadering nie summier op die Suid-Afrikaanse toneel oorgedra kan word nie. In sy grafiese kuns het Battiss feitlik alle moontlike tegnieke beoefen en veral in die houtsneë, houtgraverings, linosneë, syskermdrukke en litografie puik werk gelewer. Hy was waarskynlik die eerste om die syskermdruk as suiwer kunsvorm in Suid-Afrika te gebruik; hy is een van die weinige Suid-Afrikaanse kunstenaars om houtgraverings te doen en om Suid-Afrikaanse houtsoorte vir sy grafiese tegnieke te gebruik. Dit is nie moontlik om die kuns van Walter Battiss in tydperke of periodes in te deel nie. In die oorheersende styl wat hy in sy grafiese werk gebruik, skakel hy die derde dimensie uit en die meeste werke skep die indruk van plat vlakke. Walter Battiss het in sy grafiese werk die grootste bevestiging van sy aanvaarding as doyen van die Suid-Afrikaanse kunstenaars gelewer. / Dissertation (MA)--University of Pretoria, 1974. / gm2013 / Visual Arts / unrestricted

Page generated in 0.1096 seconds