Return to search

Postulêre werkwoorde in Griekwa-Afrikaans : 'n grammatikaliseringsondersoek / Caro Alessandri van Aardt

Grammatikale konstruksies wat met postulêre werkwoorde (VPOS’e) vorm, kom voor
in verskeie tale. Die Afrikaanse, sowel as die Nederlandse, VPOS-progressiewe
konstruksie is reeds omvattend bespreek in onlangse taalkundebronne. Hoewel
Griekwa-Afrikaans (GrAfr) en Standaardafrikaans (StAfr) beide as variasies van
Afrikaans gereken word, en boonop dieselfde oorsprong deel (te wete sewentiendeeeuse
Nederlands), en daar heelwat ooreenkomste bestaan in die manier waarop
hierdie twee Afrikaanse variëteite die konstruksie gebruik, is daar tog ook ʼn hele
aantal verrassende (vormlike en semantiese) verskille. Die doel van hierdie studie is
om die unieke wyse waarop die VPOS-konstruksie in Griekwa-Afrikaans gebruik word
om grammatikale betekenis uit te druk, aan te toon.
Die studie word vanuit ʼn grammatikaliseringsperspektief aangepak aangesien
hierdie vertrekpunt nuttig is om eerstens die ontwikkeling en tweedens die
aanwending van grammatikale konstruksies te bespreek. Die
grammatikaliseringsteorie verduidelik hoe woorde leksikale waarde verloor ten einde
meer grammatikaal te word. Die kategoriale verandering (oftewel ouksiliëring) van
die VPOS as leksikale hoofwerkwoord na grammatikale hulpwerkwoord, is ʼn merkbare
gevolg van ʼn proses van grammatikalisering.
Die gegrammatikaliseerde VPOS tree as die spil van die sin op en verrig tradisioneel
die funksie om aan te toon i) of die handeling wat uitgedruk word, in die verlede,
hede of toekoms plaasvind; ii) wat die spreker se perspektief op die handeling is, iii)
wat die spreker se subjektiewe opinie of houding ten opsigte van die handeling is; en
iv) of die handeling realiseer al dan nie. Hierdie vier funksies word onderskeidelik die
tempus, aspek, modaliteit en polariteit van ʼn sin genoem. Omdat polariteit in
Afrikaans deur die negatiewe partikel nie uitgedruk word, word daar in hierdie studie
spesifiek ondersoek ingestel na die moontlike TAM-funksies wat die VPOS in GrAfr
kan verrig.
Hierdie studie het op ʼn vergelykende wyse te werk gegaan. Twee konkordansies is
saamgestel om die gebruik van die VPOS-konstruksie in GrAfr te bestudeer in
vergelyking met StAfr. Die GrAfr-konkordansie (ʼn gesproke korpus) bestaan uit 1000
sinne wat saamgestel is uit onderhoude wat met GrAfr’e moedertaalsprekers gevoer
is in 1984 tydens die saamstel van die sogenaamde Van Rensburg-verslae. Die TKkonkordansie
(geskrewe korpus) bestaan uit ʼn lukrake seleksie van 1000 sinne
vanuit die TK-korpus wat VPOS-konstruksies bevat. Om die unieke gebruikswyse van
die GrAfr vas te stel, is hierdie konkordansies volgens spesifieke parameters
vergelyk.
Eerstens is die frekwensieratio van die verskillende VPOS'e in die twee konkordansies
vergelyk. Daar is gevind dat loop die mees frekwente VPOS in GrAfr is wat aandui dat
dit die verste van die VPOS gegrammatikaliseer het. Die frekwensierangorde vir
VPOS’e in GrAfr is loop > sit > staan > lê en die frekwensierangorde vir StAfr is sit >
staan > loop > lê.
Tweedens is die verhouding tussen leksikale en grammatikale gebruike vergelyk. Na
aanleiding van die 66,93% van GrAfr’e voorbeelde wat grammatikale funksies verrig
het, was dit duidelik dat die VPOS-konstruksie in GrAfr baie verder
gegrammatikaliseer het as die konstruksie in StAfr. Derdens is daar ʼn vergelyking
van die verskillende sinstipes gemaak en gekonkludeer dat beide konkordansies
hoofsaaklik uit stelsinne bestaan, en dat die verskil in sinstipes in die twee
konkordansies nie ʼn oorsaak kan wees van die aangeduide frekwensieverskille van
VPOS’e nie. Vierdens en laastens is spesifieke sintaktiese interessanthede wat uniek
is aan GrAfr ondersoek. Daar is byvoorbeeld gevind dat GrAfr, anders as StAfr,
gereeld twee verskillende VPOS’e in een sin gebruik, byvoorbeeld "Dan staan loop
hy jimmers". Daar was hier ook aanduidings van stringwerkwoordkonstruksies,
byvoorbeeld “Ons had ʼn bietjie gelê stan oortree”, waar daar meer as een
hulpwerkwoordelike VPOS aangewend word om ʼn grammatikale funksie te verrig.
Verder is 'n hele aantal GrAfr’e voorbeelde gevind waar loop of selfs lê as
wisselvorme van 'n die inchoatiewe gaan optree, byvoorbeeld “Hy lê kom nog”.
Ander interessante verskynsels soos variasie in moontlike sinsstruktuur is ook
ondersoek en enkele voorbeelde is gevind waar die grammatikale VPOS na die
leksikale hoofwerkwoord geplaas word, byvoorbeeld “Ek kan nie lieg sit nie”. / MA (Linguistics and Literary Theory), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15616
Date January 2014
CreatorsVan Aardt, Caro Alessandri
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0023 seconds