Return to search

Lewe en werk van Walter Battiss met besondere verwysing na sy grafiese kuns

Walter Whall Battiss is in 1906 in Somerset-Oos gebore
en het in die Oranje Vrystaat groot geword waar hy in sy
kinderjare met prehistoriese rotsgravures kennis gemaak het.
Hieruit het sy groot bewondering vir die rotskuns gespruit,
wat in later jare so 'n groot invloed op sy kuns sou hê.
Battiss se kunsloopbaan het in erns op Rustenburg, Transvaal,
waar hy in die landdroskantoor werksaam was, 'n aanvang geneem.
Hier het hy bevriend geraak met Erich Mayer en ook
sy eerste kunsuitstalling gehou van 26 tot 27 Augustus 1927.
Battiss het weinig formele kunsopleiding ontvang en wel
slegs in Suid-Afrika aan die Johannesburgse Kunsskool vir
kort periodes gedurende 1929 tot 1933. Van 1930 tot 1933 was
hy voltydse student aan die Johannesburg Teachers' Training
College en het daarna vir die volgende dertig jaar onderwys
gegee, eers aan die Park School Turffontein en toe aan die
Pretoria Boys' High School.
In 1938 het hy saam met enkele ander kunstenaars die
Nuwe Groep gestig. Daarna het hy deurgaans 'n leidende
rol in die kunsverenigingslewe in Suid-Afrika gespeel.
In 1938 het hy ook sy eerste reis na Europa onderneem waar
hy met die werke van Van Gogh en die destydse modernes
soos Picasso, Matisse en Modigliani in aanraking kom.
Deur die jare sou Battiss talle reise na Europa en verskillende
dele van Afrika onderneem en telkens die indrukke
wat hy so verkry het in sy kuns verwerk.
Vanaf 1953-1958 was hy hoof van die Provinsiale Kunssentrum
in Pretoria en in 1959 het hy vir ses maande as
professor in Skone Kuns aan die Universiteit van Rhodes,
Grahamstad, diens gedoen. Vanaf 1959 tot 1964 het hy
onderwys gegee en in 1965 is hy as professor in Beeldende
Kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika aangestel.
Sedert sy aftrede in 1971 is hy in Pretoria woonagtig.
Battiss het verskeie toekennings ontvang: 'n diploma
en brons medalje op die 14e Internasionale Olimpiese uitstalling
(1948); Erepenning van die Suid-Afrikaanse
Akademie vir Wetenskap en Kuns (1964) en 'n ere-doktorsgraad
van die Universiteit van Suid-Afrika (1973).
Battiss is die outeur van twaalf boeke en het reeds
241 uitstallings gehou, waarvan 64 eenmanuitstallings was.
Deur middel van sy gebruik van kleur en die invloed van
die inheemse kuns in sy werk, het hy Suid-Afrika bewus gemaak
daarvan dat 'n Europese benadering nie summier op die Suid-Afrikaanse
toneel oorgedra kan word nie.
In sy grafiese kuns het Battiss feitlik alle moontlike
tegnieke beoefen en veral in die houtsneë, houtgraverings,
linosneë, syskermdrukke en litografie puik werk gelewer.
Hy was waarskynlik die eerste om die syskermdruk as suiwer
kunsvorm in Suid-Afrika te gebruik; hy is een van die weinige
Suid-Afrikaanse kunstenaars om houtgraverings te doen en om
Suid-Afrikaanse houtsoorte vir sy grafiese tegnieke te gebruik.
Dit is nie moontlik om die kuns van Walter Battiss in
tydperke of periodes in te deel nie. In die oorheersende
styl wat hy in sy grafiese werk gebruik, skakel hy die derde
dimensie uit en die meeste werke skep die indruk van plat
vlakke.
Walter Battiss het in sy grafiese werk die grootste
bevestiging van sy aanvaarding as doyen van die Suid-Afrikaanse
kunstenaars gelewer. / Dissertation (MA)--University of Pretoria, 1974. / gm2013 / Visual Arts / unrestricted

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/32776
Date January 1974
CreatorsSchoonraad, Murray George
ContributorsNilant, F.G.E. (Felix Gottlieb Ernst)
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageAfrikaans
Detected LanguageUnknown
TypeDissertation
Rights© 1974 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria.

Page generated in 0.002 seconds