Return to search

'n Verkennende studie van maatskaplikewerk-praktykopleiding vanuit die persepsies van praktykopleiers / Nadia von Wielligh

Armoede, ongelykheid en werkloosheid word as die drie vernaamste maatskaplike probleme in Suid-Afrika beskou (Pennington, 2013). Wetgewing en beleidsdokumente gee dus voorkeur-aandag aan hierdie kwesbare groepe en maatskaplike kwessies (Nasionale Ontwikkelingsplan, 2011; Witskrif vir Maatskaplike Welsyn, 1997). Om aandag aan hierdie spesifieke uitdagings te skenk, is 'n ontwikkelingsgerigte paradigma in maatskaplike werk aanvaar (Lombard, 2008:162). Die uitdaging vir maatskaplike werkers is om die vaardighede te bekom sodat hulle volhoubare oplossings in hierdie konteks kan vind.
Maatskaplike dienslewering in die Suid-Afrikaanse konteks moet talle praktiese uitdagings hanteer. Dit sluit in 'n tekort aan maatskaplike werkers en hoë gevalleladings. Hoewel daar van maatskaplike werkers verwag word om binne 'n bepaalde statutêre raamwerk te werk, word die doeltreffende implementering van wetgewing deur die ernstige tekort aan maatskaplike werkers bedreig.
Om te verseker dat maatskaplike werkers toegerus is om die eise van 'n praktyk te kan hanteer, is 'n nuwe kurrikulum vir die opleiding van Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers ontwikkel. Hierdie Baccalaureus in Maatskaplike Werk-kwalifikasie is spesifiek ontwerp om aan maatskaplike werkers ‟n begrip te gee van die impak wat die politieke en sosio-ekonomiese konteks op maatskaplike welsyn het en om vanuit 'n ontwikkelingsgerigte paradigma te werk. Die belangrikheid van praktykopleiding as 'n integrale deel van opleiding in maatskaplike werk deur die integrasie van teorie en praktyk kan nie geïgnoreer word nie (Gursansky & Le Sueur, 2012; Kadushin, 1992).
Praktykopleiding word as 'n noodsaaklike komponent van die opleiding van maatskaplike werkers beskou. Die navorsingsdoel van hierdie studie was om 'n kwalitatiewe verkennende en beskrywende studie te onderneem van die persepsies van praktykopleiers ten opsigte van die huidige stand van maatskaplikewerk-praktykopleiding.
Doelgerigte en nie-waarskynlikheidsteekproefseleksie is gebruik om die deelnemers te bepaal. Data is deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude ingesamel en hierdie onderhoude is getranskribeer om die data te kan ontleed. Drie temas met subtemas is uit die data geïdentifiseer en bespreek, en met literatuur oor die onderwerp vergelyk.
Gevolgtrekkings en aanbevelings is op grond van die temas gedoen. Daar word verwag dat die bevindinge van hierdie studie moontlik kan bydra tot verdere debat, navorsing en die ontwikkeling van beleid sodat maatskaplikewerkstudente in Suid-Afrika beter voorberei kan word om die eise van die praktyk te kan hanteer. / MSW, North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15803
Date January 2014
CreatorsVon Wielligh, Nadia
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0012 seconds