Return to search

Vlak van ooreenstemming tussen die "Movement Assessment Battery for Children-2" en die "Little Developmental Coordination Disorder Questionnaire" vir breë sifting by kinders onder 5 jaar / Amné Venter

Verskeie navorsers het bevind dat motoriese agterstande by drie- tot vyfjarige kinders
voorkom en dat daar 'n beperkte hoeveelheid siftingsmeetinstrumente beskikbaar is om die
moontlikheid van motoriese agterstande by die kind jonger as vyf jaar te identifiseer.
Sommige faktore wat navorsers meen ‘n invloed op die motoriese agterstande van kinders
het, is ouderdom, ras, geslag en sosio-ekonomiese status. Hierdie motoriese agterstande kan
tot ontwikkelingskoördinasieversteuring (DCD) aanleiding gee wat op 'n vroeë ouderdom
geïdentifiseer moet word ten einde effektiewe hulp te verleen.
Hierdie studie se doel was tweedoelig. Dit was eerstens daarop gemik om die aard en omvang
van motoriese uitvalle gegrond op sosio-ekonomiese klas, geslag, ras en ouderdom by 'n
geselekteerde groep drie- tot vyfjarige Suid-Afrikaanse kinders te bepaal. Die tweede doel
was om die geskiktheid van die “Little DCDQ” vraelys vir die identifisering van DCD by 'n
geselekteerde groep drie- tot vyfjarige kinders te bepaal.
Vir die eerste doel is 53 kleuters (N=53) by die studie betrek. Die proefpersone is volgens
hulle chronologiese ouderdom in twee oudersdomsgroepe verdeel, naamlik 3.0-3.11 jaar
(n=24) en 4.0-4.11 jaar (n=29). Een en twintig seuns (n=21) en twee en dertig dogters (n=32)
is ingesluit. Twee rasgroepe, blankes (n=20) en swartes (n=33), is in die ondersoekgroep
verteenwoordig. Die groep is ook verdeel in twee sosio-ekonomiese klasse, gebaseer op
inkomste van die gesin, naamlik laag (n=31) en hoog (n=22). Die proefpersone is met die
“Movement Assessment Battery for Children-2 (MABC-2)” getoets om die aard van hulle
motoriese agterstande te bepaal. Die “Statistica for Windows 2013” Statsoftrekenaarprogrampakket
is gebruik vir data-ontleding. Vir doelstelling 1 is data eerstens vir
beskrywende doeleindes deur middel van rekenkundige gemiddeldes ( X ),
standaardafwykings (sa) en minimum en maksimum waardes ontleed. Frekwensieverdelings
is verder gebruik om die DCD status van die groep te ontleed. Verskille met betrekking tot
sosio-ekonomiese klas, geslag, ras en ouderdom is vergelyk deur van onafhanklike t-toetsing
gebruik te maak, waar p≤0.05 as betekenisvol aanvaar is. Uit die resultate wat bestudeer is,
blyk dit wel die geval te wees dat motoriese
uitvalle by drie- tot vyfjarige kinders voorkom en dat sosio-ekonomiese klas, geslag, ras en
ouderdom 'n rol speel. Resultate toon dat 11.3% van die groep met ernstige DCD
geïdentifiseer is. Die hoë sosio-ekonomiese klas (22.7%), meisies (15.6%), swart kinders
(18.2%) en die drie jaar ouderdomsgroep (12.5%) het die meeste kinders in die ernstige DCD
klassifikasie gehad. Geen betekenisvolle ouderdomsverskille het tussen die twee
ouderdomsgroepe voorgekom nie, buiten vir die gooi- en vangvaardighede waar die
driejarige groep betekenisvol beter (p≤0.05) as die vierjarige groep gevaar het. Wit kinders
het beter as swart kinders in die fynmotoriese vaardighede presteer en seuns het betekenisvol
beter (p≤0.05) as dogters in die gooi- en vangvaardigheid presteer. Geen statistiese verskille
met betrekking tot die veranderlikes wat getoets is, is tussen die verskillende sosioekonomiese
klasse gevind nie.
Vir doelstelling 2 het 110 kleuters se ouers die “Little Developmental Coordination Disorder
Questionnaire (Little DCDQ)” voltooi. Volgens die toetstotaal is die kleuters in ‘n rangorde
geplaas, waarna elke tweede kleuter op die rangorde met die MABC-2 getoets is om die vlak
van ooreenstemming tussen die twee meetinstrumente te bepaal (N=53). Betroubaarheid is
ontleed deur Chronbach Alpha-waardes vir die twee toetsbatterye te bepaal. Geldigheid van
die “Little DCDQ” is ontleed deur eerstens van Spearman korrelasiekoëffisiënte gebruik te
maak waarna kruistabulering gebruik is om vas te stel hoeveel kinders in die onderskeie DCD
kategorieë ooreenstemmend deur die vraelys en toetsbattery geklassifiseer is om sodoende
die sensitiwiteit en die spesifisiteit van die vraelys te bepaal. Die “Little DCDQ” en die
MABC-2 toon goeie betroubaarheid vir al die veranderlikes wat 'n Cronbach Alpha van hoër
as r=0.8 getoon het. Die “Little DCDQ” het matige korrelasie getoon met twee van die vier
veranderlikes van die MABC-2, waar die vang- en gooi afdeling van die MABC-2
korrelasie van r=0.3 met die algehele koördinasie afdeling van die “Little DCDQ” en die
totaal van die MABC-2 'n korrelasie van r=0.29 met die totaal van die “Little DCDQ” getoon
het. Die “Little DCDQ” se sensitiwiteit en spesifisiteit het egter nie aanvaarbare resultate
getoon nie (r=57,1% en r=81,2%) in vergelyking met die MABC-2 vir die totale van die
“Little DCDQ”.
Samevattend kan uit die resultate gerapporteer word dat ras en geslag wel 'n rol speel in die
aard en omvang van motoriese uitvalle by drie- tot vyfjarige kinders. Uit die huidige studie
het dit egter geblyk dat sosio-ekonomiese omstandighede nie so 'n groot rol speel nie. Dit het
ook duidelik geword dat die “Little DCDQ” as 'n moontlike siftingsmeetinstrument vir die
identifikasie van DCD by kinders jonger as vyf jaar woonagtig in Suid-Afrika oorweeg kan
word, maar met aanpassings. Die “Little DCDQ” moet in meer diepte ondersoek word vir
gebruiksmoontlikhede om DCD by kinders jonger as vyf jaar te identifiseer ten opsigte van
die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse kultuur en grootword omstandighede vir kinders se
ontwikkeling inhou. / MSc (Kinderkinetics), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15739
Date January 2014
CreatorsVenter, Amné
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.003 seconds