Op 23 Junie 1900 het die Britse troepe Heidelberg beset. Die rustige bestaan het vir spanning onder die burgerlikes en agterdog teenoor die Britse militêre owerheid plek gemaak. Inwoners soos ds. A.J. Louw, wat geweier het om die Eed van Neutraliteit te teken, is onverwyld uit die dorp verban. Vroue soos Issie Kriegler en Cassie O’Reilly, wat met hulle uitgesprokenheid die gramskap van die Britte ontketen het, is saam met hulle gesinne na die konsentrasiekamp by Merebank in Natal gestuur. Aangesien die beëindiging van die oorlog vir die Britse owerheid belangrik was, het distrikskommissaris J.M. Vallentin Heidelbergse wapenneerlêers gebruik om die burgers tot oorgawe te oorreed en voorstelle vir die bereiking van vrede aan die hand te doen. As deel van die verskroeide aarde-beleid is Boerevroue en kinders wat sonder heenkome was, na die blanke konsentrasiekamp op Heidelberg geneem, waar hulle getalle mettertyd tot ongeveer 2 000 aangegroei het. Die Heidelbergse kampowerhede het die aankomelinge van tente voorsien terwyl higiëniese maatreëls en mediese dienste vir liggaamlike welsyn ingestel is. Siektes het uitgebreek. Die pogings van die Britse medici om die sterftesyfer met Westerse medikasie en voorskrifte vir beter voeding aan kinders te verlaag, het allesbehalwe seepglad verloop onder meer vanweë die Boerevroue se wantroue in hulle. Voor die Anglo-Boereoorlog was die gemeentelike lewe besonder aktief. Met die Britse oorname het eredienste, bediening van die doop en katkisasie in die susterskerke op Heidelberg op 'n gereelde grondslag voortgegaan. Godsdiensoefening in die konsentrasiekamp is ook nie agterweë gelaat nie. Fasiliteite is vir die gemeentelike aktiwiteite van die drie susterskerke beskikbaar gestel. Ook het die Britse kerke op Heidelberg, die St. Ninian’s Anglican Church en die Wesleyan Methodist Church, ‘n bloeitydperk beleef, terwyl die Berlynse Sendinggenootskap sy werksaamhede gestaak het. Teen 1902 is die kampinwoners toegelaat om dienste in hulle gemeentes op die dorp by te woon. Onderwys het met die Britse besetting ‘n nuwe tydvak betree. Die kampskool het saam met die skoolgeldheffende skole en die “free schools” op die dorp daartoe bygedra om die grondslag vir ‘n Britse onderwysstelsel in Transvaal te lê. Ingevoerde Britse onderwysers het nuwe wêrelde vir die kampkinders ontsluit, wat hulle tot verdere intellektuele ontwikkeling sou aanspoor. Die kampskole, waarby ook volwassenes gebaat het, was ‘n ligpunt in die bestaan van die konsentrasiekampe. Tot onlangs was min oor die swart konsentrasiekampe in die Heidelbergdistrik bekend. Toestande in hierdie kampe het na hulle oorname deur die Departement van Naturellevlugtelinge in Junie 1901 verbeter. Swartes is deur die leër en privaat huishoudings in diens geneem. Sommige was selfversorgend deurdat hulle mielies en ander gewasse produseer het. Die swart kamp op Heidelberg se sterftesyfer was laag. Dit is waarskynlik aan die goeie werk van die mediese offisier, ene Stewart, te danke. Hervestiging van blanke en swart kampinwoners het na afloop van die oorlog in Mei 1902 gevolg. Met Britse hulp en danksy rantsoene wat aan hulle uitgereik is, kon hulle huiswaarts keer. Dit blyk dat Heidelberg se blanke konsentrasiekamp relatief goed bestuur is en vanweë sy lae sterftesyfer onder die beter kampe tel. / Thesis (DPhil (History))--University of Pretoria, 2008. / Historical and Heritage Studies / unrestricted
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/25974 |
Date | 01 July 2008 |
Creators | Pretorius, Willem Jacobus |
Contributors | Dr J E H Grobler, Prof F Pretorius, wilpret@lantic.net |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Rights | © University of Pretoria 20 |
Page generated in 0.003 seconds