Die onafhanklike lande van die Suider-Afrikaanse streek het, sedert hul respektiewelike onafhanklikwording, besluit om geen politieke bande of verhoudinge met hul kragtige, suidelike buurman, Suid-Afrika, aan te knoop nie. Al hierdie lande het op politieke gebied daarin geslaag, behalwe Malawi. Op ekonomiese gebied, egter, en veral op die gebied van handelsverhoudinge, was hierdie frontlinie state nie suksesvol nie. In ‘n poging om Suid-Afrika te isoleer, is ‘n ekonomiese blok, die SADCC, op die been gebring. Met die stigting van die SADCC in 1980, het die groep die vermindering van ekonomiese afhanklikheid van die Republiek van Suid-Afrika as hoofdoelwit gestel. Hierdie studie is ‘n poging om die SADCC se suksesse en mislukkings in hierdie verband te evalueer. Verder word probeer om die probleme wat die organisasie ondervind het in hul pogings ter bereiking van hierdie doelwit, binne die Suider-Afrikaanse geo-politieke omgewing, te ondersoek, veral in die lig van Suid-Afrika se vasbeslotenheid om regionale ekonomiese en politieke heerskappy te behou. Terselfdertyd poog die navorser om klem te lê op die deursettingsvermoë van SADCC lede om hul afhanklikheid van die Republiek te verminder – al was die resultaat in meeste gevalle gering. Hierdie studie toon dat die ekonomiese realiteit van die Suider-Afrikaanse streek die politieke retoriek aan beide kante van die politieke spektrum ten volle oorheers het. Die aard van die handelsverhoudinge tussen die RSA en die SADCC ledelande is deurgaans deur strukturele kontraste en weersprekende feite gekompliseer. / Prof. G. Verhoef
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uj/uj:14075 |
Date | 06 December 2007 |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.0018 seconds