Die fokus van hierdie studie is die verkenning van grondslagfase opvoeders se belewings van die opvoeder-leerder verhouding. Positiewe sielkunde is gebruik as die teoretiese raamwerk vir hierdie navorsing, en ‘n fenomenologiese benadering is gebruik as die metodologiese struktuur van die kwalitatiewe studie. Hierdie studie van opvoeder-leerder verhoudings in die grondslagfase is gerig op die bydrae wat dit kan lewer tot leerders se goeie prestasies, hulle positiewe ontwikkeling, sowel as die opvoeder se eie werksbevrediging. Dit dra ook by tot die welstand van opvoeders, leerders en die skoolgemeenskap. Alhoewel gesonde verhoudings in die skoolgemeenskap van die allergrootste belang is, blyk dit dat die doelbewuste uitbouing van die skoolgemeenskap se verhoudingswelstand as belangrike sosiale hulpbron verwaarloos of afgewater word.
Die volgende navorsingsvraag het na vore gekom: Wat is grondslagfase opvoeders se belewings van die opvoeder-leerder verhouding? Die perspektief van die positiewe benadering van sielkunde is gebruik om die meganismes van gesonde verhoudings binne die skoolgemeenskap bloot te lê.
Daar is gebruik gemaak van ‘n kwalitatiewe navorsingsmetode om die fenomeen te verken. Inligting is verkry deur middel van individuele onderhoude en ʼn fokusgroepbespreking as navorsingstegnieke. Doelgerigte steekproefneming is gebruik en nege grondslagfase opvoeders verbonde aan ‘n privaatskool in die Gauteng-provinsie van Suid-Afrika was deelnemers aan die navorsing. Die doel van die studie was om grondslagfase opvoeders se belewing van die opvoeder-leerder verhouding te verstaan. Tydens die proses van data-insameling is daar visuele en tekstuele data verkry. Deelnemers het collages gemaak ter beskrywing van hul belewing van die opvoeder-leerder verhouding; daarna is individuele onderhoude en die fokusgroepbespreking gevoer. Klankopnames van die versamelde data is getranskribeer, en ‘n narratiewe analise is gedoen. Bevindinge van hierdie studie is vervat in vier hooftemas: Die rol van emosies en verhoudingswelstand, opvoeders se verhoudingsvaardighede, werksbevrediging, uitdagings en verhoudingswelstand. Hierdie bevindings omvat die gesonde hantering van emosies, doelgerigte bevordering van verhoudingsvaardighede, die belewing van werksbevrediging, en die ervaring van uitdagings wat oorwegend gekoppel is aan welvarende leerders se huiskonteks. Die bevindings is verder verfyn in die subtemas wat die grondslagfase opvoeder se alledaagse belewing van die
Opvoeder-leerder verhouding
opvoeder-leerder verhouding in diepte beskryf. Die bevindings toon dat die opvoeders se positiewe ervaring van die opvoeder-leerder verhouding gesien kan word as ‘n belegging in die welstand en positiewe funksionering van beide die opvoeder en die leerder. Aanbevelings word gemaak sodat opvoeders verbeterde opvoeder-leerder verhoudings kan beskerm en bevorder deur doelgerig die ondersteuning van multidissiplinêre spanne te ontgin. Opvoeders moet begelei word om die dinamiese krag van interpersoonlike verhoudings op ‘n kreatiewe manier te gebruik ten einde die volhoubare welstand van skoolgemeenskappe as gesonde en bemagtigende ruimtes te verseker. / MA (Psychology), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15580 |
Date | January 2014 |
Creators | Steyn, Salome |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Language | other |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.0154 seconds