Return to search

Alternatiewe funksies van Swartafrikaans / Anna Petro Kriel

Die niestandaardvariëteit van Afrikaans, naamlik Swartafrikaans het ontstaan om ʼn
Afrikataalmoedertaalspreker en ʼn Afrikaansmoedertaalspreker in staat te stel om met mekaar te
kommunikeer en mekaar te verstaan. Hierdie ontstaansdoel is tiperend van pidgintale en kan
ook as die hooffunksie van Swartafrikaans beskou word. Soms word Swartafrikaans egter
tussen twee Afrikaansmoedertaalsprekers gebruik. Anders as by ʼn pidgin waar die taal tussen
twee (of meer) sprekers van verskillende tale gebruik word, word Swartafrikaans in só ʼn geval
tussen twee (of meer) moedertaalsprekers van dieselfde taal gebruik. Weens die veranderde
aard van Swartafrikaans, verander ook die funksies.
Anders as die oorspronklike funksie van Swartafrikaans, vervul Swartafrikaans ’n alternatiewe
funksie wanneer dit deur Afrikaansmoedertaalsprekers nagepraat word. Hierdie alternatiewe
funksies kan steeds gelykstaande wees aan die funksies van ʼn pidgin, maar ook aan dié van ʼn
jargon. Die funksies van ʼn pidgin is steeds teenwoordig, maar kom nou voor in kombinasie met
die funksies van ʼn jargon.
Binne hierdie studie word ʼn kwalitatiewe benadering gevolg met spesifieke fokus op die
gegronde teorie. Drie verskillende instrumente is tydens die data-insameling gebruik. Vraelyste
is deur ʼn groep van 191 respondente ingevul, almal studerend aan die Potchefstroomkampus
van die Noordwes-Universiteit in 2014. ʼn Groep van 35 studente, almal vir 'n
tweedejaarsmodule in Afrikaans-Nederlands ingeskryf, het aan die loodsondersoek
deelgeneem. Hierna is die gefinaliseerde vraelys deur ʼn groep Afrikaansmoedertaalsprekers
wat vir die verpligte module, Akademiese Geletterdheid, geregistreer is, ingevul. ʼn
Fokusgroeponderhoud is met vyf bruin Afrikaansmoedertaalsprekers gevoer en eposonderhoude
is met twee swart Afrikaansmoedertaalsprekers gevoer.
Nadat die data gekodeer is met behulp van die kwalitatiewe data-analise sagteware, Atlas.ti, is
die kodes in drie temas verdeel, naamlik die gebruikskonteks, die aard van Swartafrikaans
sowel as die persepsies oor die alternatiewe funksies van Swartafrikaans. Daar is bevind dat
die alternatiewe funksies van Swartafrikaans as gelykstaande aan dié van ʼn pidgin,
gekombineerd met dié van ʼn jargon beskou kan word. Prominente funksies behels: inklusiwiteit
en eksklusiwiteit, humor en die verryking van die individu se taalrepertoire. Die alternatiewe
funksies van Swartafrikaans is sosiaal van aard en meer as een funksie kan gelyktydig deur ʼn
uiting vervul word. Die sosio-historiese konteks van Suid-Afrika bring groot sensitiwiteit mee oor
die napraat van Swartafrikaans by Afrikataalmoedertaalsprekers sowel as by
Afrikaansmoedertaalsprekers. Hierdie sensitiwiteit het op sy beurt tot gevolg dat
Afrikaansmoedertaalsprekers dit verkies om Swartafrikaans in ʼn sosiaal geborge omgewing te
gebruik. / MA (Afrikaans and Dutch), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15343
Date January 2015
CreatorsKriel, Anna Petro
Source SetsNorth-West University
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0022 seconds