Return to search

Graad 1-onderwysers se persepsies oor die rol van metakognisie en wiskundetaal tydens die onderrig en leer van wiskunde / Gerda Regenass

Metakognitiewe strategieë en wiskundetaal speel ’n kritiese rol in onderwysers se onderrigstrategieë en die verbetering van hulle wiskunde-onderrigstyl. Die waarskynlikheid bestaan dat wanneer ʼn onderwyser se metakognisie ontwikkel word, sy of haar onderrig ook sal verbeter (Jing & Yang, 2008, p. 1). Metakognisie fasiliteer die onderrig en leer van wiskundekennis (Gourgey, 2001, p. 18), en taal is die instrument wat in ʼn onderwyskonteks die kommunikasie vir die aanleer, verstaan en ontwikkeling van wiskundekonsepte en -prosesse fasiliteer (Jamison, 2000).
ʼn Empiriese kwalitatiewe ondersoek – om te bepaal wat Graad 1-onderwysers se persepsies van metakognisie en wiskundetaal tydens die onderrig en leer van wiskunde is – is in hierdie studie uitgevoer.
Die ondersoek het op vyf Graad 1-onderwysers gefokus. ʼn Gerieflikheidsteekproef is gebruik om die groepie onderwysers (wat vir die navorser toeganklik was) uit te nooi om aan die studie deel te neem. Video-opnames is gemaak van ʼn fokusgroeponderhoud, sowel as van ʼn wiskundeles en twee individuele onderhoude. Al die onderwysers het aan die fokusgroeponderhoud deelgeneem. Een van die onderwysers (Deelnemer B) het ingestem dat ʼn video-opname van haar wiskundeles gemaak kon word. ʼn Individuele onderhoud is voor en na die video-opname met deelnemer B gevoer om ʼn beter en meer diepgaande begrip van haar persepsies oor wiskundeonderrig te verkry.
Die video-opnames van die fokusgroeponderhoud, wiskundeles en individuele onderhoude is verbatim getranskribeer, waarna a priori kodes uit die literatuurstudie gekies is. Die kodes is in temas en kategorieë gegroepeer. Data is ontleed, en gevolgtrekkings geformuleer. Resultate is daarna geïnterpreteer en aanbevelings gemaak.
Ten spyte van die beperkte veralgemenings wat op grond van die resultate moontlik is, kom die navorser nogtans tot die slotsom dat graad 1-onderwysers se persepsies oor metakognisie en wiskundetaal in die onderrig en leer in wiskunde in graad 1-klasse belangrik is en groot gewig dra. / MEd (Mathematics Education), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015

Identiferoai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15522
Date January 2014
CreatorsRegenass, Gerda
Source SetsNorth-West University
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0023 seconds