In hierdie studie word betoog dat korporatiewe sosialeverantwoordelikheid (KSV) minstens twee funksies het: om tot volhoubare ontwikkeling by te dra; en om strategiese voordeel vir die maatskappy te skep. Doeltreffende kommunikasie word as noodsaaklik beskou om beide bogenoemde funksies te vervul. Gevolglik word betoog dat maatskappye oor (om strategiese voordeel te trek) en in (om tot volhoubare ontwikkeling by te dra) KSV behoort te kommunikeer. Daaruit volg dat ʼn model vir KSV-kommunikasie beide soorte KSV-kommunikasie moet insluit.
Die teoretiese veld van KSV-kommunikasie is tans ontoereikend en daarom word teorieë uit ander velde geraadpleeg om ʼn teoretiese begronding voor te stel. Daar word geredeneer dat kommunikasie oor KSV aan die uitgangspunte van drie kommunikasiebestuursbenaderings behoort te voldoen, aangesien hierdie benaderings dieselfde doelwitte as kommunikasie oor KSV nastreef. Die benaderings sluit in: simmetriese tweerigtingkommunikasie, die reflektiewe benadering asook strategiese kommunikasiebestuur. Betreffende kommunikasie in KSV word betoog dat hierdie vorm van kommunikasie aan die uitgangspunte van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie behoort te voldoen, aangesien dit volhoubare ontwikkeling as doelwit nastreef.
Op grond van ʼn literatuurstudie oor bogenoemde kommunikasiebenaderings, word ʼn teoretiese model vir KSV-kommunikasie in die huidige studie voorgestel. Die empiriese deel van die studie fokus op die landbousektor en die teoretiese KSV-kommunikasiemodel word in die landbousektor toegepas om vas te stel hoe nuttig dit is.
Hierdie studie stel voor dat ondersteuning aan opkomende boere die hooffokus van landboumaatskappye se KSV behoort te wees. Daar word gevolglik aanvaar dat landboumaatskappye met opkomende boere (as bevoordeeldes) in KSV behoort te kommunikeer, terwyl hulle met kommersiële boere (as kliënte, verskaffers en soms aandeelhouers) oor KSV behoort te kommunikeer.
Die huidige studie het twee landboumaatskappye – Senwes en NWK – se KSV-kommunikasie ondersoek. Die empiriese deel van die studie is kwalitatief benader en die navorsingsmetodes is semigestruktureerde onderhoude, fokusgroepe en kwalitatiewe inhoudsanalise. Kwalitatiewe inhoudsanalise is ook ingespan om die resultate te ontleed wat deur die ander navorsingsmetodes bekom is.
Daar is bevind dat kommunikasie tussen die betrokke werknemers van die landboumaatskappye en opkomende boere in KSV grootliks aan die uitgangspunte van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie voldoen. Die opkomende boere was oor die algemeen heel tevrede met kommunikasie soos dit tans geskied. Daarteenoor wil dit voorkom asof die landboumaatskappye so ver moontlik vermy om oor hulle KSV-inisiatiewe met kommersiële boere te kommunikeer. Geen van die kommersiële boere wat aan die studie deelgeneem het, was bewus van die maatskappye se betrokkenheid by ontwikkelende landbou nie, en was uiters negatief oor hierdie gebrek aan kommunikasie.
Uit die voorgestelde model vir KSV-kommunikasie blyk dat die kommunikasiekanale, aard van kommunikasie en kommunikasiebeginsels grootliks dieselfde is vir kommunikasie in en oor KSV. Die doelwitte van hierdie twee soorte KSV-kommunikasie stem gedeeltelik ooreen, maar dit kan ook uiteenlopend wees. Die integrasie van kommunikasie in en oor KSV in een model word egter bemoeilik deurdat die metateoretiese raamwerke wat die relevante basisteorieë vir die ondersoek onderlê, oënskynlik uiteenlopende beskouings oor die doel van kommunikasie huldig. / PhD (Communication Studies), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015
Identifer | oai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15338 |
Date | January 2015 |
Creators | Kloppers, Elizabeth Maria |
Source Sets | South African National ETD Portal |
Language | other |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.0181 seconds