Return to search

Kernkapasiteite van die predikant as missionale leier in die vorming van ʼn missionale gemeentekultuur

Die doelwit met hierdie navorsing is die identifisering van die kernkapasiteite waaroor ʼn predikant as missionale leier binne ʼn hoofstroomgemeente moet beskik ten einde die gemeente suksesvol te kan begelei in die vorming van ʼn missionale gemeentekultuur en bedieningspraktyk. Die navorsing word gedoen binne die konteks van die groot paradigmatiese skuiwe in die missiologie sedert die middel van die vorige eeu, soos dit deur Leslie Newbigin geïnisieer, deur David Bosch aangevul en versterk, en deur die Gospel and Our Culture Network verder gevoer en uitgewerk word.
Die missio Dei vorm die vertrekpunt vir ʼn missionale ekklesiologie. Sending is nie ʼn aktiwiteit van die kerk nie, maar die handeling van God Drie-enig. Die funksie van die kerk is deelname aan die missio Dei in die wêreld en ganse skepping. Missionale leierskap setel nie in ʼn individu of amp nie, maar ontvang sy gesag van God en is gegee aan die geloofsgemeenskap. Sodanige leierskap vervul ʼn funksie radikaal verskillend van die tradisionele of kontemporêre definisie van leierskap. Missionale leierskap is in wese geloofsonderskeidend en geloofsvormend van aard en vorm binne die geloofsgemeenskap die kennis, vaardighede, houdinge en gewoontes ten einde die geloofsgemeenskap individueel en korporatief te bemagtig vir die onderskeiding van en deelname aan die missio Dei binne die daaglikse konteks waarbinne God die gemeente roep, vorm en stuur. Vanuit die rol wat histories en ampshalwe aan die predikant in ʼn hoofstroomgemeente toegeken word, vervul die predikant ʼn sleutelfunksie ten einde die gemeente suksesvol te kan begelei in die proses van aanpassende verandering en missionale gemeentevorming.
ʼn Kwalitatief empiriese ondersoek by gemeentes binne die Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes (SAVGG) ondersoek die kernkapasiteite wat vir die predikant as missionale leier nodig is. Die ondersoek onderskei vier verskillende rolle vir die predikant as missionale leier: die predikant as apostel of gestuurde; die predikant as teoloog en taalskepper; die predikant as fasiliteerder en begeleier van die proses van aanpassende kultuurverandering; en die predikant as geestelike begeleier en mentor. Die navorsing onderskei voorts die verskillende kapasiteite (kennis, vaardighede houdinge, en gewoontes) wat kernbelangrik is vir die predikant vir die vervulling van hierdie viervoudige rol op weg na missionale gemeentevorming. / Thesis (PhD)--University of Pretoria, 2014. / gm2014 / Science of Religion and Missiology / unrestricted

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:up/oai:repository.up.ac.za:2263/40278
Date January 2014
CreatorsCordier, Gert Stefanus
ContributorsNiemandt, Cornelius Johannes Petrus (Nelus), gert@randfontein.ng.org.za, Pillay, Jerry
PublisherUniversity of Pretoria
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageAfrikaans
Detected LanguageUnknown
TypeThesis
Rights© 2014 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria.

Page generated in 0.0021 seconds