Return to search

Prosesanalise om die inligtingsvloei van 'n teaterpasiënt in 'n privaat hospitaal in Pretoria te optimaliseer : 'n gevallestudie / Hermien Wolff

Kommunikasie- en inligtingsoordragfoute is algemeen in situasies waar verskeie
persone betrokke is, waar die kommunikasiepatrone kompleks is en baie druk ervaar
word. Werk in 'n teaterkompleks skep só 'n situasie. Foute in die mediese veld kan lei
tot 'n pasiënt se dood of tot beserings. Die meeste medies-geregtelike insidente kan
voorkom word. Deur dus inligtingsoordragfoute in 'n teaterkompleks te verminder, kan
medies-geregtelike insidente voorkom word. Rekenaargebaseerde inligtingstelsels kan
'n oplossing wees vir die voorkoming van hierdie probleem. Die probleem is egter dat dit
tans nie suksesvol geïmplementeer word nie. Die rede daarvoor is dat die gebruikers
voel dat die stelsel nie aan hulle spesifieke behoeftes voldoen nie en dat die werking
daarvan nie by hulle bestaande werksisteem inpas nie. Die verandering is te groot. Die
oplossing vir 'n suksesvolle implementering van 'n rekenaargebaseerde inligtingstelsel
is dus om 'n grondige behoeftebepaling te doen. Dit stem ooreen met die eerste fase
van 'n sagteware-ontwikkelingsprojek. As deel van die behoefteanalise moet daar gekyk
word hóé die inligting vloei. Dit sal 'n aanduiding wees van wat die beoogde stelsel
moet kan doen en bydra daartoe dat bestaande sisteme nie omvergewerp word nie.
Hierdie navorsingstudie dien dus om die inligtingsvloei binne 'n privaat hospitaal in
Gauteng, Suid-Afrika, se teaterkompleks, vanuit 'n professionele verpleegkundige se
perspektief, te ondersoek. Die afdelings wat direk gemoeid is met die teaterkompleks is
ingesluit, maar nie so volledig ondersoek soos die teaterkompleks nie.
Die studie is kwalitatief van aard. Dit is ondersoekend, beskrywend en kontekstueel.
Binne die kwalitatiewe aard van die studie is 'n gevallestudiebenadering gevolg.
Ondersoek is ingestel na die aard van inligtingsvloei binne die teaterkompleks en dit is
beskryf en grafies voorgestel met behulp van 'n reeks diagramme. Hierdie diagramme
sal aan 'n sagteware-ingenieur voorgelê word vir gebruik tydens die stelselontwerp. Die
konteks van die studie is, soos gesê, 'n teaterkompleks binne 'n privaat hospitaal in
Gauteng, Suid-Afrika. Die eenheid van analise van die gevallestudie is 'n pasiënt wat vir
'n noodlaparotomie teater toe gegaan het. Hierdie geval is gekies weens die
kompleksiteit van die inligtingsoordrag wat daarby betrokke is.
Die studie is in vyf opeenvolgende fases gedoen. Fase 1 is die seleksie en beskrywing
van die geval. In Fase 2 is 'n pasiëntlêer deur middel van 'n ewekansige steekproef
gekies en die dokumente is geanaliseer. Die produk van hierdie analise was 'n
voorlopige stel diagramme wat die inligtingsvloei voorstel wat in Fase 3 gebruik is om
deur rolspelers van die teaterkompleks geëvalueer te word. Die deelnemers van Fase 3
is nie-waarskynlik en doelgerig gekies. Data-insameling het vier vrae behels. Die data is
geanaliseer deur van die ses stappe van tematiese analise gebruik te maak. Die produk
van Fase 3 is gebruik om Fase 4 te voltooi. Fase 4 is die diagrammatiese voorstelling
van die inligtingsvloei na afloop van die deelname deur lede van die multidissiplinêre
span. Fase 5 is die integrasie van al die resultate en die gevallestudie. Hierdie
integrasie is tematies hanteer. / MCur, North-West University, Potchefstroom Campus, 2014

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/13457
Date January 2014
CreatorsWolff, Hermien
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0021 seconds