Die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede is noodsaaklik om skoolsukses in graad 1 te verseker. Sodanige perseptueel-motoriese vaardighede word beïnvloed deur faktore soos die onderwyser se houding, en kennis en die gebruik van leer- en onderrigsteunmateriaal (LOSM). Om skoolsukses in graad 1 te verseker moet die leerder skoolgereed en skoolryp wees. Skoolgereedheid en skoolrypheid word beïnvloed deur eksterne faktore, soos die sosio-ekonomiese omstandighede, samelewing, gemeenskap, kultuur, die skool, die onderwyser, beskikbaarheid van leer- en onderrigsteunmateriaal, ouers en gesinstrukture.
Daar is met die proefskrif gepoog om eerstens die effek van ʼn leerondersteuningintervensie op perseptueel-motoriese vaardighede van graad R-leerders in gedepriveerde omgewings te bepaal. Tweedens is daar bepaal of die leemtes in graad R-onderwysers se kennis van perseptueel-motoriese vaardighede die skoolgereedheid van graad R-leerders kan beïnvloed. Die derde doelstelling was om die verband tussen sekere biografiese veranderlikes en die graad R-onderwyseres se houding teenoor die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede van graad R-leerders te bepaal. Die vierde doelstelling het die impak van die gebruik van toepaslike LOSM op die ontwikkeling van graad R-leerders se perseptueel-motoriese vaardighede, met die fokus op klein- en grootmotoriese vaardighede bepaal.
Om doelstelling 1 te ontleed het die proefskrif eerstens gepoog om die effek van ʼn leerondersteuningintervensie op skoolgereedheid gebaseer op perseptueel-motoriese vaardighede van graad R-leerders in gedepriveerde omgewings te bepaal. ʼn Leerderondersteuningintervensie wat gefokus het op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede van graad R-leerders vanuit lae sosio-ekonomiese samelewings is saamgestel. ʼn Kwantitatiewe navorsingsmetode is gevolg met ʼn drie-groep-voortoets-natoets-ontwerp. Die populasie vir hierdie doelstelling het bestaan uit drie graad R-skole wat deur middel van ʼn gerieflikheidsteekproef gekies is. Twee kwintiel 1-skole, ʼn kontroleskool (n = 30) en ʼn eksperimentele skool (n = 25), asook een kwintiel 3-skool (n = 22) is gekies. ʼn Leerderondersteuningintervensie wat gefokus het op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede is oor ʼn tydperk van nege maande by die eksperimentele skool
(skool E) geïmplementeer deurdat hulp aan die onderwysers verleen is en die leeromgewing van die leerders opgegradeer is. Die leerders is voor- en na die intervensie deur middel van ʼn skoolgereedheidstoets geevalueer. Die resultate is deur middel van ʼn variansie-analise (ANOVA), kovariansie-analise (ANCOVA) en afhanklike t-toetse geanaliseer om die verskille tussen en binne groepe te bepaal. ʼn Beduidende verband tussen skoolgereedheid en perseptueel-motoriese ontwikkeling is gevind waar faktore soos die omgewing, minimum leer- en onderrigsteunmateriaal en beperkte kennis van die onderwyser ʼn rol gespeel het. Vanaf die voortoets tot die natoets was die persentasie skoolgereedheid onderskeidelik soos volg kontroleskool 1 (32% - 56%), kontroleskool 2 (58% - 70%), eksperimentele skool (34% - 66%). ʼn Groter verbetering in die skoolgereedheid kan by die eksperimentele skool waargeneem word. Die resultate het aangedui dat ʼn perseptueel-motoriese intervensie leerders in lae sosio-ekonomiese omgewings kan help om faktore soos ʼn gebrek aan LOSM, leemtes in onderwysers se kennis en houdings wat skoolgereedheid moontlik kan beïnvloed, te oorkom.
Doelstelling 2 het die verband tussen leemtes in graad R-onderwysers (n = 25) se kennis van perseptueel-motoriese ontwikkeling en die stand van perseptueel-motoriese vaardighede by graad R-leerders ondersoek. ʼn Gekombineerde-navorsingsmetode vanuit ʼn post-positivistiese paradigma is hiervoor onderneem en dit is volgens ʼn fenomenologies-interpretivistiese perspektief uitgevoer. ʼn Selfopgestelde vraelys wat bestaan het uit geslote-en oopeind-vrae is as meetinstrument gebruik om vyf-en-twintig (n = 25) graad R-onderwysers se kennis oor die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede van graad R-leerders in die Potchefstroomdistrik, in te win. Die vraelys het bestaan uit die invul van biografiese gegewens, tien vrae waar die onderwyser se kennis met betrekking tot perseptueel-motoriese vaardighede bepaal is, sestien vrae waar ʼn scenario met ʼn foto en beskrywing geskets is en die onderwyser die korrekte perseptueel-motoriese vaardigheid daaraan moes koppel en agt vrae waar die onderwyser se kennis ten opsigte van die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede in graad R bepaal is. Die inligting uit die vraelyste is deur middel van Atlas.ti™ en statistiese ontleding geanaliseer. Interne itemkorrelasie van die vraelys is vasgestel en ʼn Cronbach Alpha met ʼn waarde van 0,74, gebaseer op die statistiese analise, is bepaal. Die resultate het leemtes in graad R-onderwysers se kennis met betrekking tot aspekte wat verband hou met perseptueel-motoriese onwikkeling getoon. Onvoldoende opleiding is by 80% van die respondente geïdentifiseer, wat tot die leemte in die onderwysers se kennis kon bydrae. Verder het dié onderwysers nie oor die voldoende kennis beskik oor die volle omvang van die Kurrikulum-
en Assesseringsbeleidsverklaring nie en ʼn groot persentasie was onseker oor hoe om kurrikulumvoorskrifte effektief te implementeer.
Die verband tussen sekere biografiese veranderlikes en die graad R-onderwyseres se houding teenoor die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede van graad R-leerders is vir doelstelling 3 bepaal. ʼn Kwantitatiewe navorsingmetode is gevolg waar graad R-onderwysers (n = 25) wat volgens beskikbaarheid geselekteer is, ʼn selfontwikkelde vraelys voltooi het, waar die hoeveelheid tyd wat aan verskillende vakke bestee word, aangedui is. Resultate is statisties geanaliseer deur gebruik te maak van beskrywende statistiek sowel as Spearman se rangorde-korrelasie om te bepaal of daar ʼn verband bestaan tussen die onderwysers se houding, soos gemeet aan die hoeveelheid tyd wat aan die onderrig van die verskillende vakke in graad R bestee is, die ouderdom en ondervinding van die onderwysers, die aantal leerders in die klas en die sosio-ekonomiese omstandighede van leerders in die klas. Tweerigting-frekwensietabelle is verder gebruik om Chi-kwadraattoetse en Cramer’s V wat die sterkte van die verband tussen ras, taal van onderrig en die vrae wat verband hou met houding te bepaal. ʼn Beduidende verband is gevind tussen ouderdom en ondervinding van die respondente en die hoeveelheid leerders in die klas, die sosio-ekonomiese omgewing en die tyd wat aan onderrig van vakke bestee word. Hierdie aspekte kan moontlik bydra tot die onderwysers se houding ten opsigte van die onderrig van Lewensvaardighede, wat perseptueel-motoriese ontwikkeling insluit. Indien dié aspekte aangespreek kan word deur intervensie en indiensopleiding, kan die onderwyser se houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede moontlik verander, wat sal bydra tot groter klem op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede.
Doelstelling 4 het die impak van die gebruik van toepaslike leer- en onderrigsteunmateriaal op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede met die fokus op groot- en klein (fyn) motoriese vaardighede by die graad R-skole bepaal. Om die doelstelling te bereik is leerders van twee skole binne dieselfde sosio-ekonomiese omstandighede se skoolgereedheid tydens ʼn voortoets bepaal. ʼn Gekombineerde navorsingsmetode met ʼn tweegroep-voortoets-natoets-ontwerp is gevolg. Leerders van twee graad R-skole (kwintiel 1) met ʼn gemiddelde ouderdom van 5,2 (± 0,5) jaar in die Potchefstroomdistrik is met ʼn gerieflikheidsteekproef geselekteer. ʼn Perseptueel-motoriese intervensie, wat gefokus het op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede is deur middel van onderwyser-ondersteuning en die skep van ʼn effektiewe leeromgewing, vanaf Februarie tot November (nege maande) by die eksperimentele skool (n = 25) uitgevoer, terwyl geen addisionele hulpverlening in die kontroleskool (n = 30) plaasgevind het nie. Die kwantitatiewe resultate is
ontleed deur middel van ʼn afhanklike- en onafhanklike t-toets en ʼn ANCOVA is gebruik om verskille tussen en binne die skole te bepaal. Die kwalitatiewe navorsing is deur middel van ʼn multi-metode-benadering met die fokus op foto-analise en beskrywende inligting geanaliseer. Voor intervensie was geen van die leerders in die twee skole skoolgereed nie. Na die intervensie was die aangepaste gemiddeldes wat behaal is in die natoets vir klein- en grootspier-koördinasie by die eksperimentele skool prakties betekenisvol beter as dié van die kontroleskool. In die eksperimentele skool was 17 uit 20 leerders na die intervensie skoolgereed, terwyl daar uit die kontroleskool slegs 8 uit 28 leerders skoolgereed was. Die resultate dui daarop dat perseptueel-motoriese vaardighede van leerders vanuit ʼn lae sosio-ekonomiese omgewing met effektiewe LOSM gestimuleer kan word om hul skoolgereedheid te verbeter. Vroeë intervensie in die vorm van onderwyser-ondersteuning en opgradering van die leeromgewing wat fokus op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede in graad R, kan moontlik agterstande in die verband aanspreek en sodoende bydra tot die verbetering van skoolgereed.
Op grond van bogenoemde resultate kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat die graad R-leerder in gedepriveerde omgewings se perseptueel-motoriese ontwikkeling wel deur verskeie faktore negatief beïnvloed kan word. Van hierdie faktore is onder meer die onderwyser se houding, leemte in kennis, onvoldoende opleiding en beskikbaarheid van leer- en onderrigsteunmateriaal. Daar word gevolglik aanbeveel dat leerders wat in lae sosio-ekonomiese omgewings grootword aan ʼn vroeë intervensie, wat fokus op die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede en effektiewe LOSM, blootgestel moet word. Daarbenewens behoort onderwysers se leemte in kennis oor perseptueel-motoriese vaardighede asook hul houding oor die belangrikheid van perseptueel-motoriese vaardighede aangespreek te word deur onder andere indiensopleidingsprogramme. Die belang van die aanstelling van goed opgeleide onderwysers, gerig op vroeë kinderontwikkeling behoort ook by die Departement van Basiese Onderwys aandag te geniet. Sodoende kan dié leerders se agterstande tydig oorkom word en hul skoolgereedheid verbeter word. / PhD (Human Movement Science), North-West University, Potchefstroom Campus, 2015
Identifer | oai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/15369 |
Date | January 2015 |
Creators | Loubser, Annemarie |
Source Sets | North-West University |
Language | other |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.003 seconds