Return to search

'n Ondersoek na die veranderlike rol van die opvoedkundige tolk / Herculene Kotzé

Die rol wat die tolk vervul, is sentraal tot die sukses van die kommunikasie waarby sprekers van verskillende tale betrokke is. Professionele liggame en instellings vereis van ʼn tolk om tydens enige tolkgeleentheid aan etiese kodes en praktykstandaarde te voldoen. Hierdie etiese kodes en praktykstandaarde is rigtinggewend in dié opsig dat dit in ʼn mate voorskryf hoe die tolk sy rol moet benader en vervul. Wat egter opgesluit is in dergelike voorskrifte is die voortdurende ondersteuning van die sogenaamde ‘kanaal’-rol, waarin die tolk as onsigbare ‘masjien’ gesien word. Die uitdaging wat dus aan die tolk gestel word, is om binne sy moontlike unieke omgewing slegs volgens die voorskriftelike kanaal-rolbeskrywing te funksioneer. Wat in die literatuur oor die onderwerp bevind is, is dat die verwagtinge wat deur so ʼn voorskriftelike rolbeskrywing aan die tolk gestel word, nie noodwendig haalbaar is in die praktyk nie. In die lig hiervan bring hierdie studie die rol van die opvoedkundige tolk op die voorgrond.
Gemeenskapstolking in die breë verwys na tolking wat alle sosiaal-geörienteerde tolking saamvat, insluitend tolking wat verband hou met opvoeding of opleiding. Hierdie studie ondersoek gemeenskapstolktipes om vas te stel wat die ooreenkomste en verskille tussen die onderskeie tipes gemeenskapstolking is, en bevind dat opvoedkundige tolking uniek van aard is en dus ʼn unieke benadering noodsaak. Dit sluit aan by Mullamaa (2006:25) se siening dat ʼn sosiale ommekeer in tolknavorsing plaasgevind het en dat daar tans ʼn groter bewustheid van die kompleksiteit van tolking gekweek word. Toury (1995:53) en Pym (2010) ondersteun hierdie siening en voer aan dat die taalpraktisyn homself as deel van die sosiale omstandighede van die kommunikasiegeleentheid moet kan handhaaf.
Op ʼn teoretiese vlak is Toury (1995:55) se normkonsep ingespan omdat dit kontekssensitief is en die inherente sosiale dinamika waarbinne vertaal- en tolkpraktyke gevestig word, verreken. Geskoei op die teoretiese normmodelle van Toury (1995:55) en Shlesinger (1999:65-77), wat ʼn meganisme daarstel waardeur normatiewe gedrag en rolgedrag gemeet kan word, asook Niska (2002:137-138) se teoretiese tolkrolmodel wat aanvoer dat die gemeenskapstolk homself in ʼn piramiede van betrokkenheid bevind, is bestaande en nuutingesamelde data geanaliseer om vas te stel presies wat die dinamiek is wat verreken behoort te word in die omskrywing van die rol wat opvoedkundige tolk vervul.Daar is bevind dat ʼn definisie van die rol van die opvoedkundige tolk gevind kan word tussen dit wat van die opvoedkundige tolk verwag word en dit wat in die werklikheid geskied. Die studie het bewys dat die rol van die opvoedkundige tolk inderdaad veranderlik is, en dat die wending na ʼn meer sosiaal-dinamiese rolmodel vir tolking ook by die rolvervullingsmodel vir opvoedkundige tolking inpas. Die teorie wat geponeer word, is dat die opvoedkundige tolk homself deurgaans op ʼn dinamiese kontinuum van beweeglikheid bevind waarbinne hy verskeie rolle vervul na gelang die spesifieke behoeftes van die tolkgeleentheid.
Aanbevelings word gemaak vir die implementering van ʼn model vir opvoedkundige tolkrolvervulling in Suid-Afrika, asook vir verdere navorsingsmoontlikhede ten opsigte van die tolkrolgesprek. / Thesis (PhD (Linguistics and Literary Theory))--North-West University, Potchefstroom Campus, 2012

Identiferoai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/8004
Date January 2012
CreatorsKotzé, Herculene
PublisherNorth-West University
Source SetsNorth-West University
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0024 seconds