Return to search

n Interseksionele lees van Bettina Wyngaard se misdaadtrilogie (An intersectional reading of Bettina Wyngaard’s crime-fiction trilogy)

Magister Artium - MA / Bettina Wyngaard se misdaadfiksie-trilogie, bestaande uit die romans Vuilspel (2013), Slaafs (2016) en Jagter (2019) het ’n vernuwende uitwerking in die Afrikaanse literatuur gehad. Dit kan hoofsaaklik teruggevoer word na die skrywer se gebruik van ’n (swart) lesbiese
protagonis. Wyngaard is ook die eerste swart Afrikaanse vroue-outeur wat haar tot hierdie genre gewend het. Haar misdaadtrilogie toon ’n sentrale bemoeienis met die vroulike subjek se ondergeskikte posisie as deurgaans onderdruk weens verskeie identiteitsaspekte
(waaronder ras, gender, klas, seksualiteit, kultuur en nasionaliteit tel). Die simbiotiese verhouding tussen identiteit en mag is dus ’n prominente tematiek in die trilogie. Hierdie bemiddeling tussen identiteit en mag toon raakpunte met die interseksionaliteitsteorie soos
voorgestel deur Kimberlé Crenshaw (1989). Sy voer aan dat subjekte onderdruk word deur die tussenspel van identiteitsmerkers en sisteme van onderdrukking wat inherent is daaraan. In hierdie verhandeling word die representasie van die vroulike subjek in Wyngaard se
misdaadtrilogie uit ’n interseksionele invalshoek in oënskou geneem. Vanweë die gebruik van literatuur as subjek van analise in hierdie verhandeling, word swart feministiese denkskole oor die letterkunde ingereken as ontledingsinstrumente om Wyngaard se trilogie binne die ruim trajek van swart feministiese fiksie te posisioneer. Terselfdertyd word Wyngaard se subjektiwiteit as swart vroue-outeur krities bekyk omdat sy deur middel van haar tekste verantwoordelik is vir beeldskepping en voorstellings van vroulike subjekte. Aangesien Wyngaard se fiksie dikwels identiteitsaspekte ondervang wat verband hou met haar eie subjektiewe identiteit, sal die wyse bekyk word waarop selfdefiniëring en selfaktualisering in haar trilogie tot stand gebring word.Soos reeds genoem, het Wyngaard grense in die Afrikaanse letterkunde versit deur haar tot misdaadfiksie as genre te wend. As deel van populêre fiksie, staan misdaadfiksie tradisioneel bekend as ’n behoudende genre met ’n resepmatige onderbou wat, só beskou, nie gebruik word om progressiewe argumente in te voer nie. Hierdie aspek van die genre staan dus oënskynlik in kontras met die feministiese aard van Wyngaard se misdaadfiksie-trilogie. In hierdie verhandeling word gevolglik ook die funksionaliteit van genre en die impak daarvan op die beeldskepping van die vroulike subjek bekyk. Maniere waarop Wyngaard gevestigde genrekonvensies oorskry in ’n poging om feministiese benaderings te berde te bring, word in die besonder bestudeer. / South Africa

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:uwc/oai:etd.uwc.ac.za:11394/8183
Date January 2021
CreatorsEss, Courtneigh
ContributorsBonthuys, Marni
PublisherUniversity of the Western Cape
Source SetsSouth African National ETD Portal
LanguageAfrikaans
Detected LanguageUnknown
TypeThesis
RightsUniversity of the Western Cape

Page generated in 0.0025 seconds