Return to search

Musiekintegrasie in graad R : 'n teoretiese raamwerk gebaseer op 'n gevallestudie / Mignon van Vreden

Graad R verwys volgens die nuutste Afrikaanse beleidsdokumente na die voorskoolse opleiding wat tans in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel ingefaseer word, alhoewel die Departement van Basiese Onderwys beoog dat alle leerders eers in 2019 toegang sal hê tot formele graad R-programme. Uitdagings vir onderrig in vroeë kinderontwikkeling in Suid-Afrika is onder meer ʼn tekort aan gekwalifiseerde onderwysers, asook leer- en ondersteuningsmateriaal van ʼn hoë gehalte.
Die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) vir graad R bestaan uit drie vakke: Huistaal, Wiskunde en Lewensvaardighede. Lewensvaardighede bestaan uit vier studie-areas, naamlik Aanvangskennis, Skeppende kunste, Liggaamsopvoeding, asook Persoonlike en Sosiale Welsyn. Slegs dertig minute per week word as deel van Skeppende kunste toegestaan aan formele musiekonderrig. Wanneer musiek in die dagprogram met ander aspekte van graad R-onderrig en -leer integreer word, word die holistiese ontwikkeling van die leerder bevorder. Graad R-onderwysers het egter selde in musiek gespesialiseer en is onseker oor die implementering daarvan in hul onderrigprogramme.
Uitvoerbare moontlikhede word in hierdie proefskrif ondersoek om musiek in die graad R-dagprogram te integreer ten einde ʼn bydrae te lewer tot die sosiale, fisiese, emosionele, intellektuele en geestelike ontwikkeling van graad R-leerders. Die hoofnavorsingsvraag wat hieruit ontstaan, is watter teoretiese raamwerk verduidelik hoe musiek in graad R geïntegreer kan word.
Die navorsingsbenadering wat gevolg is om hierdie vraag te ondersoek, is ʼn kwalitatiewe, veelvoudige gevallestudie vanuit ʼn interpretatiewe perspektief. Aanvanklik is ʼn literatuurstudie gedoen om huidige tendense ten opsigte van die integrasie van musiek in graad R te beskryf. Daarna is die onderrig en leer in vyf multikulturele graad R-klasse in die Potchefstroom-omgewing waargeneem met die doel om die maniere waarop musiek in die praktyk geïntegreer word, in te samel. Die data is toe met behulp van Atlas.ti 7.1.6 georganiseer en gekategoriseer, waarna ʼn oorkruis gevalle-analise gedoen is. Die bevindinge is geverifieer deur langtermyn-waarneming en deelnemer-kontrole.
ʼn Teoretiese raamwerk is ontwikkel deur die ses temas wat uit die data-analise gegenereer is in verband te bring met ʼn geïntegreerde literatuuroorsig. Hierdie aspekte vir die integrasie van musiek in graad R waardeur onderrig en leer kan plaasvind, is geïdentifiseer as oor musiek, uit musiek, op musiek, met musiek, in musiek en deur musiek. In die raamwerk word elke aspek van integrasie verbind met aktiwiteite wat gebaseer is op die leerbeginsels vir
graad R, naamlik spel, ontdekking en praktiese ervarings, ten einde die ontwikkeling van die graad R-leerder te bevorder.
Alhoewel die bevindinge spesifiek is tot die Potchefstroom-omgewing, hou die teoretiese raamwerk verskeie moontlikhede in vir nasionale en internasionale toepassing in voorskoolse onderrig. Dit impliseer dat musiek suksesvol in die graad R-dagprogram geïntegreer kan word deur musiekspesialiste sowel as onderwysers wat nie in musiek gespesialiseer het nie. / PhD (Music), North-West University, Potchefstroom Campus, 2014

Identiferoai:union.ndltd.org:netd.ac.za/oai:union.ndltd.org:nwu/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/13448
Date January 2014
CreatorsVan Vreden, Mignon
Source SetsSouth African National ETD Portal
Languageother
Detected LanguageUnknown
TypeThesis

Page generated in 0.0017 seconds