Daar is baie onbeskryfde ruimtes en identiteite in Suid–Afrika; gemeenskappe waarvan die woordkunspotensiaal van die vertellers en skrywers nie ontgin is nie. Die kompleksiteit van die Suid–Afrikaanse samelewing, veral met betrekking tot taal en die geletterdheidskontinuum, veroorsaak dat gemeenskapseie woordkunsprojekte nie op n eendimensionele vlak beskou kan word nie. In een gemeenskap is daar byvoorbeeld lede wat steeds in die mondelinge tradisie funksioneer, maar ook ander vir wie die skriftelike tradisie toeganklik is. n Nuwe, sogenaamde “sekondêre mondelinge tradisie” speel ook n rol, en daar is komplekse intervlakke tussen hierdie tradisies. In elke gemeenskap deel mense mini–narratiewe met mekaar, maar is daar ook meesternarratiewe waardeur die betrokke gemeenskap, en die samelewing as geheel, beïnvloed word.
Die oorkoepelende doel van die studie is om vas te stel watter rol oraliteit en identiteit speel in die bevordering van gemeenskapseie woordkuns in Suid–Afrika.
As navorsingsmetode word daar vanuit n heuristiese en interpretatiewe benadering afleidings uit bestaande literatuur en gevallestudies gemaak. Die studie bestaan uit n teoretiese en praktiese deel. Die teoretiese deel behels n metateoretiese raamwerk wat uit die literatuurstudie gevorm word. Dit vorm as't ware die “bril” waardeur die res van die studie beskou word. Drie teoretiese sfere word betrek, naamlik (1) identiteit en ruimte, (2) die woordkuns en (3) gemeenskapsontwikkeling. Tydens die praktiese deel word daar veral van die praktykgebaseerde navorsingsmetode gebruik gemaak, asook op deelnemende waarneming en outo–etnografie gesteun. Insigte word uit twee gevallestudies oor gemeenskapseie woordkunsprojekte en die bespreking van n aantal eenmalige woordkuns–projekte verkry.
Uit beide die teoretiese en praktiese dele van die navorsing word sekere merkers afgelei wat vir die skep van n model ter bevordering van die woordkuns in Suid–Afrika gebruik word. Die model is nie algemeen geldend nie; dit bied slegs beginsels wat as riglyne in die bevordering van gemeenskapseie woordkuns kan dien.
Na afloop van die navorsing word tot die gevolgtrekking gekom dat beide oraliteit en identiteit n sentrale rol in die woordkuns van gemeenskappe speel. Daar word gevind dat daar verskeie verbande bestaan tussen die identiteit en ruimte van n gemeenskap en die manier waarop hulle hulself in woordkuns uitdruk. Verder word vasgestel dat n deelnemende benadering tot gemeenskapsontwikkeling as n toepaslike filosofiese raamwerk vir gemeenskapseie woordkunsprojekte kan dien. Die benadering word ook (met inagneming van die konsepte ruimte en identiteit) as raamwerk vir die ontwikkeling van die model ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns gebruik. / Thesis (Ph.D. (Afrikaans and Dutch))--North-West University, Potchefstroom Campus, 2011.
Identifer | oai:union.ndltd.org:NWUBOLOKA1/oai:dspace.nwu.ac.za:10394/4819 |
Date | January 2010 |
Creators | Combrink, Anneretha |
Publisher | North-West University |
Source Sets | North-West University |
Detected Language | Unknown |
Type | Thesis |
Page generated in 0.0025 seconds